Bykans 150 gestremdes het in George se burgersentrum saamgetrek vir die geleent-heid. Die verrigtinge het die vorm van 'n talentkompetisie aangeneem. Uitstallings van Emmaüs, Epilepsie Suid-Afrika en leerwerk van Patrick Saayman was deel van die dag.
Janetta Esau van Riversdal het as gasspreker opgetree. Dié formidabele vrou wat haar hande op sewejarige ouderdom verloor het, is 'n bewys dat gestremde persone 'n "normale" vol en aktiewe lewe kan lei. Sy het ‘n positiewe boodskap van hoop gebring.
Verskeie individue en groepe soos die Carpe Diem-dansgroep, Emmaüs se dramagroep, die dramagroep van Epilepsie Suid-Afrika en vele ander het hul talente gewys deur indrukwekkende optredes.
Almal was dit tydens die saamkuier oor 'n heerlike middagete eens dat die werkswinkel 'n baie belangrike plek op die Suid-Kaapse kalender het - dit is 'n tyd vir gestremdes van oor die streek om saam te kuier maar ook 'n plek waar talent en belangstellings gedeel en vertoon kan word.
Dit is die tweede jaar dat die geleentheid aangebied word.
Epilepsie Suid-Afrika-lede het ‘n puik opvoering van ‘Rooikappie’ gelewer. Van links is Maryke Rossouw (Ouma), William Fitzpatrick (wolf) en Janine Dirkse van Schalkwyk (Rooikappie) saam met past. Alec Sheldon, wat die verrigtinge met gebed geopen het.
ARTIKEL EN FOTO'S: JUANITA VAN WYK