GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste vier Paasfees op Donderdag 5 Maart by Herold's Bay Resort. Dit vind om 08:30 vir 09:00 plaas.
Noddy Kubani, ‘n boorling van Graaff-Reinet, het haar kosloopbaan begin toe sy saam met die welbekende sjef, François Ferreira, in George gewerk het.
Met die begin van François se kookskool was Noddy een van sy eerste studente en sy voltooi ‘n 3-jaar diploma om haar toe te rus vir haar rol as sjef. Gedurende haar opleiding het sy Francois ook as opleier bygestaan.
Tydens haar studies was Kafe Serefé haar werkgewer waar sy dan ook haar prakties voltooi het. Hierna begin sy haar loopbaan as sjef by Stonehill Restaurant op Klein-Brakrivier.
Die laaste nege jaar is Noddy ‘n sjef by Herhold's Bay Resort waar sy blootstelling aan troues en groot onthale kry. Sy onderskei haarself as ‘n sjef wat daarvan hou om op hoogte te bly van nuwe tendense in spyseniering.
Noddy is nie onbekend aan die Suid-Kaapse Fynproewersgilde nie en het al met twee vorige geleenthede demonstrasies vir die gilde gedoen.
In die gees van Paasfees gaan die volgende geregte gedemonstreer word: Chelsea-bolletjies met ‘n paasbolletjie kinkel, eiervrug-en-murgpampoentjierolletjies, geroosterde Marokkaanse hoender, Camembert-en-spekpakkies en “churros” met ‘n doopsous.
Lekker vars idees vir jou Paasfeestafel.
Gaste is hartlik welkom. Kontak Elaine Louw by 083 263 5417 om jou plek te bespreek. ‘n Kaartjie is R170.
Alle belangstellendes word genooi om by die gilde aan te sluit. Hulle motto: "Niemand hier is kenners nie. Hier leer ons almal gesellig saam."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'