GEORGE NUUS - Neels van Aswegen, 'n bekende, afgetrede sakeman en ondersteuner van die kunste in George, is Vrydagaand na 'n kort siekbed oorlede. Neels was 81 jaar oud.
Hy laat sy vrou, dr. Ronell van Aswegen, stiefdogter, Monique Zürich-Bubanj, 5 kinders en 12 kleinkinders agter.
Neels en sy tweelingbroer, Loutjie, was pioniers toe hulle een van die eerste diskonto afdelingswinkels in 1965 in Pretoria gevestig het. In 1978 het Neels sy broer uitgekoop en alleen voortgegaan met Van Aswegens.
Neels het hom ook bekwaam as vlieënier op multi-enjin vliegtuie en helikopters. Sy wonderbaarlike herstel na 'n helikopterongeluk in 1996 was merkwaardig.
Neels sal onthou word vir sy skerp unieke humorsin en sy sagte aanslag.
Hy het 'n passie gehad vir reis, mooi motors, Chardonnay wyn en gourmet kos.
Ten tyde van sy dood het die Van Aswegens op Fancourt gewoon.
Neels het versoek dat daar nie 'n begrafnis of diens sal wees nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'