"'n Gesin skep 'n veilige omgewing vir mense om op te groei, waardes en emosionele vaardighede te leer en om te voel ek behoort," sê Nicolette Pretorius, direkteur van Famsa Outeniqua. Tog is daar deesdae soveel faktore wat die voortbestaan van gesinne bedreig. Met die gejaagde lewenstyl is die gesin se behoeftes dikwels 'n laaste prioriteit.
Dinge soos finansiële druk, die impak van modern tegnologie, en mense se eie seer, het 'n groot invloed op die welstand van die gesin. Pretorius sê verder: "As ons nie daadwerklik 'n poging aanwend om ons gesin te koester en hard te werk aan die verhoudings in die gesin nie, raak ons verwyderd van mekaar en vervul die gesin nie meer sy doel nie. Hierdie verval in gesinne veroorsaak 'n rimpeleffek wat uitkring na die gemeenskap en die wêreld as geheel."
Pretorius is van mening dat mense miskien sou vra, "gaan my klein gesinnetjie werklik 'n verskil maak in hierdie wêreld?" Sy sê dat die antwoord hierop is 'n groot ja is. "Die gesin vorm die basis van die samelewing en juis vanweë hierdie rimpeleffek, is elke gesin belangrik."
'n Goeie voorbeeld hiervan is dat die gesin die basis is waarin kinders leer om gesonde verhoudings te leef. Dit het 'n effek op hulle verhoudings met die groter familie, hul skoolmaats, hul werk later en ook hulle eie gesin eendag. Daarom is 'n gesin 'n baie groot verantwoordelikheid.
Om die effek van gesonde gesinne te laat uitkring, vra harde werk, regte prioriteite en tyd. Dit gebeur nie vanself nie.
Pretorius stel voor dat elke persoon die volgende vrae moet vra:
- Hoe dink ek oor elke lid van my gesin;
- Hoe praat ek met elke lid;
- Hoeveel tyd spandeer ek met elkeen in die gesin apart en saam;
- Luister en hoor ek regtig nog my gesinslede se hart;
- Wanneer laas het julle as gesin herinneringe geskep;
- Is daar unieke rituele en gewoontes wat julle saambind;
- Hoe sien ander gesinslede jou ;
- Wanneer laas het julle as gesin saam gelag;
- Kan jy jou pyn en bekommernis met jou gesin deel;
- Beoefen julle saam 'n geloofslewe;
- Is jou gesin werklik vir jou belangrik?"
"Begin vandag. Dis die moeite werd. Jou gesin is die moeite werd. As daar problem in jou gesin is, maak so gou moontlik werk daarvan en kry hulp. Moenie een dag langer uitstel en hoop dit kom vanself reg nie. Die keuse in joune," het Pretorius ter afsluiting gesê.
Famsa lewer beradingsdienste ten einde mense se emosionele welstand en verhoudings te verbeter. Afsprake kan gemaak word by 044 874 5811.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'