GEORGE NUUS - Daar is 'n romantiese rede agter Nathan Treurnicht en sy vrou, Lindrey, se keuse om op Skrikkeldag te trou.
Die paartjie het Saterdag in die lieflike Waboomskraal-omgewing by die Oppie Plaas-venue hul troubeloftes afgelê. Dit was Nathan se voorstel om op Skrikkeldag die amptelike jawoord te kry. "Ek het gemeen dit sal vir ons elke vierde jaar 'n rede gee om 'n spesiale herdenking te hê wanneer ons iets regtig groots kan doen om dit te vier," sê hy.
Die paartjie van Groot-Brakrivier is al 10 jaar saam. "Ek het Lindrey in Junie van ons matriekjaar gevra om my meisie te wees."
Nadat hulle aan Groot-Brak Sekondêr gematrikuleer het, het Lindrey op Wellington en Nathan op Mosselbaai gaan studeer.
Hulle liefde het die toets van 'n langafstandverhouding deurstaan en vyf jaar gelede is hul seuntjie, Nivandre gebore. Die troue is 'n gepaste manier om hul liefde na 'n dekade saam te verseël.
"Ons beplan om darem elke jaar ons herdenking te vier en wel op 28 Februarie," sê Nathan.
Nathan en Lindrey Treurnicht het na 'n dekade saam op Skrikkeldag getrou. By die paartjie is hul seuntjie, Nivandré.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'