GEORGE NUUS - Garden Route Access, is die mondstuk vir mense met gestremdhede en skep 'n platform vir hierdie mense om uiting te gee aan hul gevoelens.
Die groep het onlangs 'n werksessie by Bethesda in Rosemoor aangebied, gemik op jeug en veral gestremdes.
Die fokus van die werksessie was om die groep gereed te kry vir die werksmark, wat op hulle wag en wat van hulle verwag word.
Cyril Williams, een van die fasiliteerders van GRA, sê hulle wou gestremdes daarvan bewus maak dat daar werksgeleenthede vir mense soos hulle is. "Ons wou hê hulle moes weet daar is geleenthede vir hulle, dat hulle nie net by die huis hoef te sit nie."
Williams sê sowat 20 jeugdiges het die sessie bygewoon en wou sekere dinge weet soos hoe die werkgewer die werksplek meer toeganklik kan maak.
"Ons sal na die aard van die gestremdheid kyk, is die persoon in 'n rolstoel en moet ingange by badkamers breër gemaak word, asook hoe die werksarea veilig gemaak kan word. Die organisasie help dan mense met gestremdhede om hulself te bemagtig."
Voor links is Filando Freeks en sy susters Yolanda en Kirsley-Ann. Regs voor is Petrus Moller van CWP. Agter van links is Rowayane Slinger en Lenese Jonas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'