GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste kom Donderdag 7 Maart by die Kobus Hattingh-saal in Glentana bymekaar. Dit begin om 08:30 vir 09:00.
Tydens hierdie geleentheid word kennis gemaak met die veelsydige shiitake-sampioen.
Charlene van Niekerk van SharLeBel Sampioene sal die demonstrasie behartig.
SharLeBel kweek shiitake-sampioene en hulle visie is om ‘n kookkunservaring te skep wat boonop ‘n fees vir die oog sal wees. Die geregte wat gedemonstreer gaan word, is ‘n gepiekelde shiitake-sampioen-, aarbei- en swartwoudhamslaai bedien met ‘n shiitake-sampioen- en songedroogdetamatie-beskuitjie. Dit word gevolg deur polentasirkels met aspersies, soet-en-suur shiitake-sampioene en parmesaan.
Die hoofgereg is pêrelgort met ‘n shiitake-sampioen-salsa bedien op ‘n swart hummus met gepiekelde soetrissie- en gerookte-shiitake-beskuitjie. As nagereg word vrugtesjokoladestukke met ment gedemonstreer. Daar word afgesluit met shiitake-biltong.
Van Niekerk gaan die wyne van Houtbosch Wyne te proe aanbied om die geregte te komplementeer. Houtbosch is naby George.
Gaste is welkom. Kontak Elaine Louw by 083 263 5417 om te bespreek. ‘n Kaartjie is R170. Alle belangstellendes word genooi om by die gilde aan te sluit. Hulle motto: “Niemand hier is kenners nie. Ons leer almal gesellig saam.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'