GEORGE NUUS - Lizelle Erasmus (44), 'n persoonlike assistent by 'n plaaslike regsfirma, het sowat vier en 'n half jaar gelede 'n korneaoorplanting ondergaan nadat 'n erge ooginfeksie haar binne drie dae blind gelaat het.
Erasmus was 'n kontaklensdraer met 'n aktiewe leefstyl. Sy het netbal gespeel en ure in die gimnasium spandeer. Kort voor haar 40ste verjaarsdag het sy 'n bakteriese ooginfeksie opgedoen. Sy het die sig in haar regteroog heeltemal verloor en is met 20% sig in haar linkeroog gelaat. 'n Korneaoorplanting was haar enigste hoop om ooit weer te kan sien.
Sy is op 'n waglys vir korneas geplaas en vriende en familie het fondse vir die operasie ingesamel. Op 5 Februarie 2015 het Erasmus 'n nuwe kornea vir haar regteroog ontvang, waarvoor sy ewig dankbaar is.
Die George Herald het destyds breedvoerig oor haar lewensdrama berig.
Erasmus werk steeds vir Scholtz Bruwer, van die regsfirma Bruwer & Kolele Prokureurs, maar word deesdae ingespan vir projekbestuur.
"Sedert my oorplanting het ek alle uitdagings wat die lewe bied aangegryp, waaronder 'n eksamen deur die NHBRC (National Home Builders Regulation Council) wat ek met lof geslaag het," het Erasmus gesê. "Glad nie sleg vir 'n vrou nie, sou ek sê. Dit is 'n man's world, maar ek is nie sommer net enige persoon nie."
Word 'n skenker
Erasmus tree gereeld by skole of funksies op vir die bewusmaking van orgaanskenking. "Ek is 'n walking, talking, living voorbeeld dat wonderwerke wel geskied," het sy gesê.
"Dit vat jou 'n skamele twee minute om gratis as 'n orgaanskenker op 'n platvorm soos Facebook te registreer. Jy kan sewe mense se lewens red en iemand daar buite 'n tweede kans op die lewe gee. Nee, daar is geen spesiale toetse nie. Dit is heeltemal gratis. Dit is egter nodig dat jy jou wens met jou familie en geliefdes bespreek. Almal wil so graag ontvang, maar is jy bereid om te gee? Is jy bereid om vandag 'n verskil in iemand se lewe te maak?"
'n Millimeter van die dood
Die oorplanting het Erasmus 'n tweede kans gegee. "Destyds is die infeksie letterlik 'n millimeter van my brein af uitgesny, so dit was 'n millimeter tussen die lewe en die dood," het Erasmus gesê.
"Ek het 'n nuwe lewe gekry. 'n Tweede kans om suksesvol te wees. Ek het nog steeds net een oog (ek wag nog geduldig vir nog 'n orgaan), maar as jy so na my kyk sal jy dit nooit sê nie, want alhoewel ek 'n gebrek het, define dit nie wie ek is nie. Die lewe is nie gemaak om maklik te wees nie, die lewe is hard. Daar is goeie dae en slegte dae, maar het ek net nooit moed opgegee nie."
Erasmus moes leer om haar hande as "gereedskap" te gebruik en te voel waar sy is. Dit was ook vir haar moeilik wanneer mense simpatiseer.
"Ek wil net as 'n normale mens met 'n gebrek gesien word," het sy gesê. Dit was vir haar moeilik om afhanklik te wees van iemand wat haar rondry. "Ek waardeer nou letterlik alles. Om 'n blommetjie daar buite te kan sien of die tandepasta wat ek op my tandeborsel sit."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'