GEORGE NUUS - Danksy die goedhartige optrede van die Early Act-klub by Laerskool Outeniqua kan kinders by Bethesda nou spog met nuwe rugsakke en skryfbehoeftes.
Dit is deel van die Early Act se nuutste gemeenskapsprojek.
Wilhelm van der Vyver, 'n lid van die George Rotariërs, het aan die George Herald gesê Early Act word by laerskole deur die internasionale Rotariër-diensorganisasie ondersteun.
Dit het as doel om geleenthede te verskaf aan jong leerders vir aktiewe burgerskap in 'n kultureel diverse samelewing in 'n interafhanklike wêreld.
"Ons het 'n paar jaar gelede bewus geword van die Wikkelwurms-projek by Bethesda," het Amanda Hattingh, 'n onderwyser en Early Act-koördineerder by Laerskool Outeniqua vertel. "Die inisiatief behels 'n stimulasieprojek vir kinders met ontwikkelingsagterstande tussen die ouderdomme van twee en ses jaar, met die kinders wat kom uit benadeelde gemeenskappe.
"Oor die afgelope paar jaar het ons verskeie kere na hierdie spesiale kinders uitgereik, en hierdie jaar wou ons iets spesiaals doen vir diegene wat die skool verlaat om na
Graad R te beweeg. Ons Early Actors was meer as opgewasse vir die taak."
Die leerders by die Early Act-klub, bygestaan deur hul ouers, het rugsakke met skryfbehoeftes voorsien, koek gebak en ander snuisterye gereël vir die samekoms. Op die dag van die besoek, 5 Desember 2018, het sowat 40 Early Actors by Wikkelwurms by Bethesda aangekom, die koek en eetgoed aan die kinders uitgedeel, en toe met die kinders in die speelarea gespeel.
"Deel van ons missie as 'n skool is om emosionele en sosiale ondersteuning te gee in die ontwikkeling van ons leerders tot volwassenheid," het Johan Smit, die hoof van Laerskool Outeniqua, vertel. "Early Act verskaf aan ons 'n manier om ons hieraan te verantwoord."
Frances Feig, president van die George Rotariërs, het gesê die organisasie is trots om met die Outeniqua Early Actors geassosieer te word.
"Hulle inisiatiewe verpersoonlik die leierskap, empatie en gemeenskaps-betrokkenheid wat ons land baie nodig het."
n Die Early Act-klub beplan nog projekte vir later vanjaar. Verdere besoeke aan die Wikkelwurms, met projekte wat die skool verfraai, en uitreike na 'n plaaslike ouetehuis word ook oorweeg.
n Enige persoon wat navrae het oor die begin van 'n Early Act klub by hul laerskool is welkom om Van der Vyver van die George Rotariërs te bel tydens kantoorure by 044 873 0215.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'