GEORGE NUUS - Toe Lynn-Mari van Heerden op ’n Vrydagmiddag tydens haar etenstyd huis toe ry, kon sy nie haar oë glo toe sy 'n hond op 'n dak sien staan nie.
Sy het navraag gedoen en vasgestel dat die Dachshund, Barry, gereeld daar staan en die wêreld bespied. Hy het skynbaar geen hoogtevrees nie. Barry is een jaar oud en behoort aan Dylan Lunt.
Van Heerden, 'n groot liefhebber van die Dachshund-honderas, het vertel dat sy op Vrydag 28 Februarie soos gewoonlik tussen 13:00 en 14:00 huis toe gery het vir haar etenstyd. Sy werk by 'n mediese dokter in Knysnaweg.
Sy ry al vir byna twee jaar elke dag dieselfde pad werk toe en het nooit vantevore die hond by die huis in Meyerstraat gesien nie.
Die betrokke dag het die huis haar aandag getrek omdat dit te koop was. Sy hou baie van die huis en het stadiger verbygery. Dis toe dat sy ’n hond op die dak sien.
Eers het sy gedink hy is dalk uitgesluit. Sy was bekommerd en het 'n verteenwoordiger van die plaaslike buurtwag gebel. Hy het vertel dat die hond gereeld op die dak sit.
Lynn-Mari van Heerden saam met Dylan Lunt. en sy hond Barry.
Foto: Eugene Gunning
Toe Van Heerden later weer terugry werk toe, het die hond steeds op die dak gesit. Van Heerden het daarna kontak met die Lunt-familie gemaak en hulle Saterdag gaan besoek.
Sy het ook foto's van Barry op die dak geneem. Sy het dit op die Facebook-bladsye van Georgiete Staan Saam en Dachshund Lovers geplaas. Dit het wye reaksie ontlok.
Dylan het vertel dat Barry is 'n baie vriendelike hond is. Dylan woon op die boonste verdieping van hul huis en Barry slaap saam met hom in die kamer. Hy glip soms by 'n buitedeur uit na die dak. Ander kere klim hy met buitetrappe tot bo.
Die familie probeer hom keer om dit te doen, maar soms vergeet hulle om die hek te sluit. Dit is dan wanneer Barry sy kans gebruik.
Die familie het nog 'n hond, Loopy. Die hond doen dit ook soms, maar nie so baie soos Barry nie.
Lynn-Mari van Heerden saam Loopy, Barry en Dylan Lunt. Loopy en Barry behoort aan die Lunt-familie. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'