Wanneer ‘n mens op ‘n sakebesoek genooi word, is dit gewoonlik kort en kragtig. Jy pak in, reis, doen die werk en kom huis toe. Dit is egter glad nie te sê dat dit nie ook lekker is om so ‘n slag buite die kantoor te werk nie.
Met die jongste bekendstelling van die Franse Citroën DS4-motor, was ek een van ses Suid-Afrikaanse joernaliste wat gelukkig was om self te kon ervaar hoe die mooiste motor ter wêreld lyk en bestuur.
Meer daaroor kan aanstaande week in die Suid-Kaapse motorgids gelees word.
Barcelona
Dié stad is die hoofsentrum van Katalonië en was pragtig lentegroen met ‘n lekker sagte klimaat wat nie te warm of te koud was nie. Gemaklik en veilig om in rond te dwaal met iets oud of nuut op elke straathoek om te bewonder.
Soos enige groot Europese stad, is dit ‘n bedrywige plek met haastige mense maar die kenmerkende middagsluiting - die siesta - word nog beoefen.
Teen vyfuur die middag sluit die straatkafees, restaurante en selfs winkels weer oop en kan ‘n mens na hartelus kyk en koop solank die Euro’s natuurlik hou!
Katedraal
Een plek wat ‘n mens eenvoudig móét sien, is La Sagrada Familia, ‘n katedraal wat deur die argitek Antoni Gaudí ontwerp is.
Bouwerk het in 1882 begin. Die konstruksie duur nog voort en die koste daarvan word deur die toeriste aan die katedraal betaal.
Die naam beteken "kerk van die heilige familie" en binne is dit ‘n baie ou struktuur met pragtige goudbeslaande versierings, talle uitbeeldings van Rooms-Katolieke heiliges en olieskilderye wat almal gelaai is met simboliek - te veel om in een middag te bestudeer!
Die buitekant van die katedraal is Gaudi se mees ambisieuse werk en tydens die besoek het ’n hele paar honderd mense saam met ons deurgestap.
Kleredrag moet gepas wees en vroue in kortbroeke word byvoorbeeld nie toegelaat nie.
Vir my was een van die treffendste items, ‘n doopfont van soliede marmer uit die dertiende eeu.
Dit was in een van die sy-annekse saam met ander kunswerke.
Die ander treffende faset van die katedraal was die hoeveelheid blomme wat kerkgangers in die kapelle neergesit het.
Gasvry
Wat ‘n mens van Spaanse gasvryheid en kookkuns hoor, was beslis nie oordrewe nie. Veral die seekos, vis en ham van die streek verdien spesiale lof.
Tydens die motorbekendstelling het ons by ‘n kelder gaan draai waar Spaanse vonkelwyn of Cava gemaak word. Hoewel ons nie meer kon doen as ‘n slukkie proe nie (ons het mos bestuur!) is die hele proses deeglik verduidelik en alles kon beskou word. Dit is ook glad nie moeilik om oor die weg te kom nie, aangesien die meeste mense wel ‘n bietjie Engels kan praat.
Die mense is ook goed ingelig: "You speak a kind of Flemish in South Africa?" het een winkelier vir ons gevra nadat hy oor die aksent uitgevra het om te hoor van waar ons groep is.
Spanje verdien jaarliks meer uit toerisme as Suid-Afrika uit al sy goud. Selfs na so ‘n kort besoek, kon ‘n mens verstaan hoekom!
.jpg)
Die mooiste motor in die wêreld - Citroën se DS4 in Barcelona. Lees volgende week meer oor die motor in die Suid-Kaapse Motorgids.
.jpg)
Die doopfont dateer uit die dertiende eeu en kan by die katedraal gesien word.
.jpg)
Die buitekant van Antoni Gaudí se katedraal in die hartjie van Barcelona.
ARTIKEL: ANICA KRUGER