Update
GEORGE NUUS - Die George-kunsteteater het 'n groot hupstoot gekry danksy 'n geleentheid wat Saterdag 12 Junie gehou is om geld vir die teater in te samel.
Minstens R20 000 is ingesamel by die geleentheid wat deur Motorcycle Madness in Markstraat in samewerking met Guns n Roses, aangebied is. Dit het bekend gestaan as Bikers for Theatre.
Ofskoon dit beter gaan met die teater, is dit steeds onder druk. In een stadium verlede jaar was daar selfs 'n moontlikheid dat die deure sou sluit.
Die organiseerders het Maandag gesê dit is deur 250 mense bygewoon. "Die dag was 'n groot sukses, maar as dit nie vir almal was wat ons kom ondersteun het en ons borg nie sou die dag nie moontlik gewees het nie. Baie dankie aan elkeen wat hier was."
Bernadette Schaap, voormalige bestuurder van die teater en ook 'n geesdriftige motorfietsentoesias, het haar dank teenoor Guns n Roses, die organiseerders en al die borge uitgespreek. Sonder hulle sou die geleentheid nie moontlik gewees het nie.
Mense het hulself Saterdag gate uit geniet by die Bikers for Theatre geleentheid. Charl Botha (links), Jinene Steenekamp, Bernie Schaap, Bennie Steenekamp en voor Wesley Meier.
Reneè van Rensburg, voorsitter van die teater, het gesê sy het self 'n deel van die geleentheid bygewoon en is bewus van die R20 000 wat ingesamel is en is baie opgewonde daaroor.
Die geld wat op die wyse ingesamel is, sal vir die teater se volgende projek naamlik Save our Grand Ol' Dame gebruik word wat voorsiening maak vir herstelwerk van die teatergebou.
Die dak van die teater moet herstel word en dit gaan 'n klomp geld kos.
Daar was 'n hele paar ysterperde by Saterdag se Bikers for Theatre geleentheid.
Daar is Saterdag te heerlik gekuier by die Bikers for Theatre geleentheid.
Foto's: Eugene Gunning
Vorige artikel: Bikers wil Georgekunsteteater help
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'