Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Groep geesdriftige motorfietsryers het Saterdag hul stemme dik gemaak oor geweld teen vroue en kinders.
Hulle het hul ysterperde in verskeie dorpe in die Tuinroete laat brul as deel van Bikers Against Abuse.
Aanvanklik het hulle vroeg Saterdagoggend in Plettenbergbaai weggespring. Daarna het hulle tot by Knysna en Sedgefield gery waar nog motorfietsryers aangesluit het. In George het nog 'n groep vir hulle gewag.
Eers het hulle 'n rukkie in George ontspan en toe die pad gevat na Mosselbaai waar die uitstappie voltooi is. In die groep van sowat 40, was motorfietsryers van oud en jonk.
André West, wat by die reëlings betrokke was, het gesê die idee was om mense bewus te maak van geweld teen vroue en kinders en te wys dat motorfietsryers omgee vir vroue en kinders.
"Ons almal het familie wat geraak word deur die geweld. Ons voel ook om 'n verandering te maak aan die denkwyse van sommige mense wat motorfietsryers betref.
Kyk 'n video hieronder:
Die motorfietsryers neem 'n ruskans in George voordat hulle na Mosselbaai vertrek.
Ons as ouers dink aan die vroue en kinders wat so verkrag en vermoor word en dit is nie reg nie."
Theo Gertze, een van die organiseerders, wat ook bygestaan is deur Desmond Davids van Plettenbergbaai, het gesê die motorfietsryers wou met die rit standpunt inneem oor geweld teen vroue en kinders.
"Ons het besluit om iets te doen. Dit kan nie toegelaat word dat dit voortgaan nie. Ons is pa's en het vrouens en meisies."
Hy het benadruk die motorfietsryers is teen enige vorm van geweld teen vroue en kinders gekant. Hulle sou meer mense daar wou hê, maar het begrip want dit is op kort kennisgewing gereël.
Die plan is om dit weer aanstaande jaar te hou en dan ook ander liefdadigheidsorganisasies te betrek.
Op van die motorfietse was plakkate wat die boodskap uitgedra het.
Die motorfietsryers neem 'n ruskans in George voordat hulle na Mosselbaai vertrek. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'