GEORGE NUUS - Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum in Porterstraat, Denneoord, tesame met Media Fox, is aan die vooraand van 'n splinternuwe jaarlikse geleentheid wat swemmers van oral gaan lok.
Plaaslike ystermanatleet, Heinrich Muller, beoog om tydens die nuutste fondinsamelingsprojek, op 23 April 20 km ver te swem ten bate van die sorgsentrum en sodoende R250 000 in te samel.
Volgens Môreson se hoof, Angelique Durant, is dit 'n tweeledige geleentheid.
"Een deel is om vir Heinrich borge in te samel vir sy swempoging en die tweede deel is 'n een myl swem waar lede van die publiek, asook alle ystermanatlete wat later die jaar in Mosselbaai gaan deelneem, welkom is.
"Ons verwag ongeveer 150 atlete en hul families wat die dag by Pine Lake Marina sal bywoon," sê sy.
Swem Suid-Afrika gaan 'n swemkliniek aanbied vir sowat 50 van Môreson se kinders waar hulle basiese waterveiligheid en -vaardighede geleer sal word.
"Die plaaslike NSRI is ook betrokke om Heinrich tydens sy 20 km-swem by te staan. Die geld wat ingesamel word sal gebruik word om die veiligheid van die sentrum te verbeter," sê Durant.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'