TUINROETE | KAROO NUUS & VIDEO - Dis jammer, meen Heindrich Wyngaard, hoof van die nuutgestigte Kaapse Forum, dat hy onverdiend deur kritici as uitverkoper gebrandmerk word.
Wyngaard het deelgeneem aan AfriForum se inhoudbelaaide Veg- en Bouweek op Mosselbaai, wat vanaf 25 tot 30 April gehou is. Dit was dié deurwinterde joernalis se eerste sodanige openbare optrede sedert sy aanstelling.
"Die goeie nuus is dat doodgewone wit en bruin Suid-Afrikaners, inteendeel, selfs 'n swart advokaat wat my raakgeloop het gesê het 'doen hierdie ding, daar is 'n behoefte'. En ek laat my nie sommer van stryk bring nie," het Wyngaard tydens 'n onderhoud aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
AfriForum het vandeesweek onder meer 'n teen-boelieveldtog by skole, 'n sportdag vir jongmense, 'n seminaar oor veiligheid, gesprekke oor streeksoutonomie en meer aangebied.
'Ons wil leer by AfriForum'
"Ons ledetal sal wys dat mense die bestaan van ons organisasie verwelkom. En, ons wil 'n merkbare impak in ons fokusareas hê."
Dít is Heindrich Wyngaard, hoof van die nuutgestigte Kaapse Forum, se antwoord op 'n vraag oor hoe hy die kritici se monde 'n jaar van nou af sou wou snoer.
Wyngaard het met die Mossel Bay Advertiser gesels op die vooraand van optrede as gas by AfriForum se inhoudbelaaide Veg- en Bouweek op Mosselbaai. Hy het gister, 28 April saam met onder meer Flip Buys, hoof van Solidariteit deelgeneem aan 'n seminaar oor streeksoutonomie en ekonomiese selfstandigheid vir die Suid-Kaap.
Ander gesprekke gedurende die week waaraan prominente sprekers, soos die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer, dr Theo de Jager, uitvoerende direkteur van SAAI en ander deelgeneem het, sluit landelike veiligheid en bemagtiging van die jeug in.
Relevante besoek
In 'n Zoom-onderhoud met Wyngaard voor sy aankoms op Mosselbaai, het hy aangedui dat die dorp hom as gebore plattelander, na aan die hart lê.
"Een van my eerste bustoere as kind, was na die Suid-Kaap. Ek is baie bly dat ek juis op die platteland die eerste geleentheid kry om oor Kaapse Forum se fokusareas te gesels, by 'n geleentheid wat juis so relevant is tot wat ons wil doen."
Hoewel Wyngaard dit duidelik gemaak het dat Kaapse Forum eers volgende Woensdag, 4 Mei hulle 10 fokusareas amptelik bekendmaak, het hy wel genoem dat armoedeverligting hoog op die agenda is.
"Dit vorm deel van 'n breë ingesteldheid. Ons sal nie verby 'n arm wit of swart mens stap nie. Daar is iets soos doodgewone medemenslikheid. As die politieke winde eers gaan lê, bly ons steeds mense, veral dié van ons vir wie geloof belangrik is. Jou naaste is iemand na wie jy moet omsien as dit binne jou vermoë is."
Op Mosselbaai, meen Wyngaard, is visserye beslis 'n fokusarea.
"Ons meen dat die provinsie visserye as 'n staatsfunksie behoort oor te neem. Nog beter, dat die plaaslike gemeenskap moet kan besluit hoe dit wat beskikbaar is, onderverdeel word."
VIDEO: Mossel Bay Advertiser gesels met Kaapse Forum
Kritiek
Ernst Roets, hoof van beleid by AfriForum het tydens 'n ontbyt op Maandag, 25 April gesê dat AfriForum se interkulturele samewerking 'n veel groter impak maak as om propaganda as teenreaksie op kritiek te gebruik. En uit die onderhoud met Wyngaard, blyk die stigting van Kaapse Forum 'n getuigskrif hiervan te wees.
Sedert die aankondiging dat Wyngaard as voorsitter van Kaapse Forum sal optree, was die kritiek fel. Wyngaard sê dat hy een van die eerste ondersteuners van die gedagte agter stigting van Kaapse Forum was toe Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum dit aanvanklik te berde gebring het.
"Dit moes lankal gebeur het. Daar is bruin mense wat nou aanstoot neem en sê dit lyk nie of ons na onsself kan omsien nie. Niks keer diesulkes om dit steeds te doen nie, maar hier het ons 'n organisasie [AfriForum] met bepaalde ervarings in die vestiging van 'n burgelike organisasie en hulpbronne wat jy dikwels nie vind by organisasies wat in die algemeen sopkombuise bedryf nie. Hoekom sou jy dan nie die hand van vriendskap neem as jy werklik verbind is tot hulp aan die gemeenskap nie?," meen Wyngaard.
"Ons ontken geensins ander gemeenskappe se nood nie. Ons is bloot ingestel op die historiese vervreemding van die oorspronklike inwoners van die Wes-Kaap en hulle nasate."
Binne die groter konteks, is die oogmerk om seker te maak dat alle inwoners van die provinsie groter beheer kan kry oor sake wat hulle na aan die hart lê. Dít, voeg Wyngaard by, sluit egter nie afstigting van die Wes-Kaap in nie, hoewel Kaapse Forum oop is om met enige groep te praat.
Persepsies
"Daar is mense wat dit wil laat klink of AfriForum mense uitsluit. Dit is onwaar. Die organisasie het nog altyd gesê dat hulle onapologeties die belange van die breer Afrikaanssprekende gemeenskap dien. Enige mens kan by AfriForum aansluit. Jy moet bloot kies waar jy die meeste voordeel sal trek of die beste tuis sal voel."
Hy noem egter dat hy reeds versoeke uit die Oos-, sowel as die Noord-Kaap ontvang het vir uitbreiding van die nuutgestigte Kaapse Forum.
Daar was tye in die verlede, beken Wyngaard dat AfriForum uitsprake gemaak het wat tot 'n rassedebat gelei het.
"Kaapse Forum wil juis leer uit AfriForum se ervaring van 16 jaar om nie dieselfde foute te herhaal nie en nie die wiel te herontwerp nie."
Dr Theo de Jager, uitvoerende hoof van SAAI tydens 'n gesprek oor landbou.
Foto: Cornelle Carstens
René Malan (links) en Denise Lloyd van die Mosselbaai Besigheidskamer se bestuur, saam met Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer en die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé (regs). Foto: Cornelle Carstens
Dr Theo de Jager, uitvoerende hoof van SAAI tydens 'n gesprek oor landbou.
Ernst Roets, hoof van beleid by AfriForum, saam met die voorsitter van die Mosselbaai-tak, Louis Cook en sy vrou, Joy. Foto's: Cornelle Carstens