Gallery
GEORGE NUUS - Nie eers die Covid-19-pandemie kon gister (Woensdag 11 November) die geesdrif van kiesers, wat gaan stem het in die vier deurslaggewende munisipale tussenverkiesings vir die George-stadsraad, demp nie. Kruisies is by stembusse in wyke 8, 14, 17 en 27 getrek.
Dit was duidelik dat kiesers en verteenwoordigers van politieke partye die tussenverkiesings ernstig opneem want die uitslae is bepalend wie die septer in die stadsraad gaan swaai.
As die DA drie of vier sou wen, behou hy die mag. As hy net twee wen, sal hy moet saamwerk met 'n ander party.
Teen druktyd was die uitslae nog nie bekend nie en dit is eers laat gisteraand verwag.
Benewens die politieke wedywering tussen politieke partye was daar 'n ander faktor naamlik die protokolle vir Covid-19 wat nagekom moes word. Dit het die stemproses bietjie stadiger gemaak.
Vroegdag
In wyk 8 was een van die eerste kiesers om haar kruisie te trek by die Parkdene-gemeenskapsaal, die 81-jarige Elizabeth Damons. In dieselfde wyk het Bazil Petrus, die DA-kandidaat by die stempunt by die Katolieke kerk opgedaag om te kyk hoe dinge vorder.
Petrus, wat George se burgemeester was van 2004 tot 2008, was positief dat hy die wyk sou wen.
Fotogalery: November tussenverkiesing op George
"Howzit!" Die twee manne het kuier-kuier verby die stalletjies beweeg in Amaryllisstraat, voor die stemlokaal vir wyk 27 by die Verenigde Gereformeerde Kerk.
By die Conville-gemeenskapsbiblioteek het 'n lang tou kiesers gestaan. Alida en Stoffel Jacobs het daar in wyk 17 gestem.
Alida het sedert 1994 nog in elke verkiesing gestem en het vertel dat dit die keer 'n ander ervaring was om met 'n masker te stem. Stoffel Jacobs het gesê dit was nie vir hom vreemd om so te stem nie: "Ons werk mos al sewe maande elke dag met maskers."
In dié wyk is die DA-kandidaat Brendon Adams, kort voor die verkiesing positief vir Covid-19 getoets. Hy kon nie die verkiesing self bywoon nie.
Adams het telefonies aan George Herald gesê dis maar moeilik. "Ek kan nie eers vir myself stem nie." Hy het bygevoeg: "Ek is baie dankbaar vir die mense wat vir my stem en help in die verkiesing."
Hy het hom nie laat onderkry nie en het op die stoep van sy huis gesit. "Ek kry die atmosfeer van hier."
Leighton Mansfield swaai sy vlag verbete om kiesers nader te lok vir 'n kruisie by 'n stemlokaal vir wyk 27 by die Vincent Pallotti Rooms Katolieke Kerk in Beachweg.
Stemgees
In Pacaltsdorp het dinge stadig maar seker begin lewe kry by die stemlokale vir wyk 14, Rosedale, en wyk 27, 'n groot gedeelte van Pacaltsdorp. Kiesers het drupsgewys opgedaag om hul kruisies te trek. By die stemlokaal vir wyk 14 in die Pacaltsdorp-gemeenskapsentrum langs die verkeersdepartement in Missionstraat was die tou mense wat wag om hul bestuurderslisensies te hernu veel langer as die ry voor die stembus.
Die stemgees van wyk 27 het later die oggend begin verbeter by die stemlokale in die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) en Vincent Pallotti Rooms Katolieke Kerke. Jolige musiek, geselsies en oor en weer skertsery was aan die orde van die dag.
Eleanor Prins, kieser van wyk 27: "Ek gaan anders stem as gewoonlik. Die keer is dit met my hart." Foto's: Michelle Pienaar
Kyk wie het kom kuier! Gert Niehaus doen sy deel vir die Vryheidsfront Plus in wyk 14, Rosedale.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'