GEORGE NUUS - 'n Ontstoke belastingbetaler kla dat die George-munisipaliteit sy plig versuim om die eienaar van 'n erg beboste erf in Ericaweg te dwing om dit skoon te maak.
Dit hou 'n brandgevaar in en lok onwettige okkupasie, kla die vrou, wat anoniem wil bly.
"Die Papillon-kompleks grens direk aan die erf. Ek het verskeie kere in die afgelope 11 maande gekla, maar niks gebeur nie en die situasie raak net al hoe erger. Ek het totaal moed opgegee met die munisipaliteit," sê sy.
Volgens die eienaar, Eise du Plessis, wag hy vir die George-munisipaliteit se beplanningsafdeling om sy planne goed te keur.
"Ek het geen toegang tot die erf nie en daar moet 'n pad gebou word, maar ek wag nou al 'n paar jaar vir goedkeuring. Ek kan nie herhaaldelik die geweldige onkoste aangaan om die erf skoon te maak voordat ek met grondwerke kan begin nie, en ek kan nie met grondwerke begin as ek nie die munisipaliteit se toestemming het nie."
Die klaer meen egter dat toegang tot die erf wel moontlik is en dat die munisipaliteit die eienaar kan dwing om die erf skoon te maak. "Waarom haal hy nie net 'n gedeelte van die Vibacrete-muur uit om 'n stootskraper in te stuur nie? Daar is ook 'n syhekkie aan Ericaweg se kant van die erf.
"Die munisipaliteit moet almal tog onder een kam skeer. Dit lyk of hulle nie in staat is om die wet toe te pas nie. As 'n ontwikkelaar 'n erf vir 'n paar miljoen koop, moet hy tog besef dat daar onderhoudskoste gaan wees."
Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale senior kommunikasie-beampte, het by navraag bevestig dat die eienaar besig is om aansoek te doen vir goedkeuring om 'n pad te bou. Paaie is reeds geregistreer vir konstruksie in terme van die algemene planne vir die ontwikkeling wat hy wil doen.
"Die eienaar is verantwoordelik vir die skep van toegang tot die erf en die bou van 'n pad. Hy moet die saak opneem met siviele dienste en hy is ten volle bewus van hierdie vereiste. Hy het 'n area van drie meter oopgesny om brandgevaar rondom hierdie eiendom te voorkom en het ook 'n gedeelte waartoe hy toegang kon kry, op 8 April gesny."
Volgens die munisipale bywet is eienaars van eiendom verantwoordelik vir die skoonmaak van hul eiendom. Gras moet gesny en bome en struike gesnoei word, so nie mag die munisipaliteit die erf laat skoonmaak en die koste van die eienaar verhaal.
Die eienaar van die erf sê hy kan nie skoonmaak nie, want hy het nie toegang tot die grond nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'