GEORGE NUUS - Die Sommer Net Ons ATKV-tak van Pacaltsdorp is in hulle noppies nadat hulle 'n sertifikaat van die ATKV ontvang vir 'n 'baie hoë vlak van funksionaliteit'.
Dit is 'n gepaste erkenning van dié woelige tak wat sedert hulle stigting in Oktober 2017 verskeie inisiatiewe in die plaaslike gemeenskap die lig laat sien het.
Die toekenning is by die ATKV se algemene jaarvergadering oorhandig. "Sommer Net Ons is 'n groep visievormende ambassadeurs wat die liefde vir die Afrikaanse taal, kultuur en herkoms positief motiveer en bemark," sê die ondervoorsitter, Ruzanne van Beulen.
"Ons wil vanuit die fondasie van die Outeniquaberge tot diep in die hart van Pacaltsdorp kruip - ons geskiedkundige skatkis waar ons op kreatiewe, storievertel manier ons ryke erfenis op nuwe generasies se harte wil uitgraveer."
Die Skitterende Ster was die tak se eerste groot projek - 'n produksie wat deur 60 kinders uit die nabygeleë gemeenskap opgevoer is. In 2018 is hierdie kinders betrek en kultuur, lees- en lewensvaardigheid is op 'n innoverende manier aan hulle oorgedra.
As deel van die leesbevorderingsprojek het die tak ook 'n leesmarathon in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, George-biblioteek en omliggende skole gehou. Sê die voorsitter, Bridgette Matthews, "Die mobiele storieleesprojek is ook met opgewonde harte deur een van die plaaslike skole vir leerders met gestremdhede ontvang. Ons glo in 'n beter Suid-Afrika met die jeug as die toekoms, daarom verbreed ons hul horisonne op plaaslike sowel as nasionale vlak. Die Boom van Vele Kleure, een van ons produksies wat deur die verwoestende brande geïnspireer is, is verlede jaar suksesvol deur 80 kinders uit omliggende gemeenskappe opgevoer."
Straatteater is 'n baie sterk platform teen tik- en dwelmmisbruik, daarom kon die tak deur middel van Lilly, 'n produksie deur 'n plaaslike talentvolle inwoner Beverly McKelly geskryf, op die planke bring en hul stem in dwelmgeteisterde gebiede laat hoor. Hierdie geleentheid is positief deur die stadsraad en gemeenskap ondersteun.
Vonk n Ster is een van Sommer Net Ons se bemagtigingsprojekte waardeur hulle tans besig is om 30 kinders uit Rosedale op 'n positiewe opvoedkundige en godsdienstige manier help deur middel van 'higiëne-pakkies'. Van Beulen sê op hierdie manier lewer die tak 'n bydrae tot die ontdekking en herstel van die kinders se eie identiteit, waarde en trots.
"Die welstand van ons senior burgers, kinders en totale gemeenskap is vir ons belangrik, daarom reik ons uit deur soms sop, brood of warm kouse uit te deel. Sommer Net Ons is aktief betrokke om inklusiwiteit luidkeels te projekteer deur deelname en betrokkenheid. Daarom vat ons hande met ander etniese groepe, George-toerisme en Dine with a Local om ons kleurryke eiesoortigheid op verskillende maniere te vier en te verken, en saam te bou," sê Van Beulen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'