GEORGE NUUS - George Herald het verlede jaar berig dat daar ’n agterstand is in die afhandeling van aanstellings vir onderwysposte in sommige skole in die Eden en Sentraal Karoo-onderwysdistrik, na bewering weens vertragings by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).
Daar is onder andere ’n skoolhoofpos wat glo in 2022 reeds geadverteer is, maar George Herald is ingelig dat ’n aanstelling nog steeds nie gemaak is nie.
Wanneer ’n pos geadverteer word, sal die skool die onderhoudsproses met kandidate afhandel en dan nominasies met die vereiste dokumentasie aan die WKOD stuur.
Die koerant het verneem van frustrasie in talle skole weens die departement wat dan sloer met die bekragtiging van die aanstelling.
Die departement het verlede jaar by navraag gesê dat 26 skoolhoofposte in 2023 in die distrik geadverteer is waarvan 18 nog by die skole se beheerliggame was; dus het die departement vir die skole gewag.
Twee poste is terugverwys na beheerliggame en twee poste is weer geadverteer. Die ander word geprosesseer.
Op verdere navrae in die nuwe jaar het Bronagh Hammond, departementele woordvoerder gesê uit die 26 poste skoolhoofposte is een skoolhoof met ingang van 1 Januarie vanjaar aangestel. Sewe nominasies is by die hoofkantoor ingedien, en dokumentasie vir 12 poste sal na verwagting voor die einde van Januarie ingehandig word. Ses poste sal weer geadverteer word.
Gevra watter skole se beheeliggame steeds posaansoeke in hul besit het, het Hammond gesê: “Soos aangedui sal die dokumentasie vir 12 poste ingedien word voor die einde van Januarie.
"Hierdie poste is by Tyholorha Primêr, Parkdene Sekondêr, Hoërskool Thembalethu, Kranshoek Primêr, Laurus Primêr, Hoërskool Calitzdorp, De Rust Primêr, Haarlem Sekondêr, Môrester Sekondêr, Merweville Primêr, Murraysburg Primêr en AH Barnard Primêr.
"’n Waarnemende hoof is by elk van hierdie skole aangestel. Die twee aansoeke wat na die distrik terugverwys is, is Laerskool Park en Langenhoven Gimnasium.”
Die ses poste wat weer geadverteer word, is omdat geskikte kandidate nie gevind kon word nie. Hierdie poste is by Hoërskool Percy Mdala, Britsevlak NGK Primêr, Rooirivier VGK Primêr, Hoërskool Murraysburg, Laerskool Blanco en Jonga Street Sekondêr.
’n Waarnemende hoof is by elk van hierdie skole aangestel.
Die aansoeke wat tans verwerk word, is nominasies vir Laerskool Ruiterbos, Wittedrif Primêr, Hoërskool Heatherlands, Kretzenshoop Primêr en St Mary’s Primêr wat by die hoofkantoor ingehandig is.
“Indien volledige dokumentasie ontvang word en geen prosedurele of inhoudelike tekortkominge gevind word nie, sal die proses om ’n aanstelling goed te keur, ongeveer ’n maand neem.”
Hammond het gesê die departement is nie bewus van enige pos wat in 2022 geadverteer is wat nog nie gevul is nie.
Gevra hoeveel hoof- en departementshoofposte in 2022 en 2023 geadverteer is wat nog nie gevul is nie, het sy gesê, “Departementshoofposte word op skoolvlak hanteer. Die distrik is besig om inligting te versamel oor aanstellingsprosesse wat in die skoolvakansie plaasgevind het.”
Poste by distrikskantoor gevries
Oor bewerings dat sekere poste by die distrikskantoor nie gevul word nie, het Hammond gesê alle bestuursposte by die kantoor is permanent gevul behalwe vir die pos van hoof: Leerderondersteuning, wat van 1 Januarie vanjaar af vakant is.
“Nege administrasieposte is geraak deur die kostebesnoeiingsmaatreëls wat op openbaredientseposte van toepassing is in terme van die direktief van die minister van openbare dienste en administrasie.
"Nasionale Tesourie het met ingang van 18 Oktober 2023 sentraal vakante poste in verskeie kategorieë gevries, waaronder senior- en middelbestuur, maar uitgesluit voorsteliniepersoneel.
"Ons sal ons bes doen om enige negatiewe impak hiervan op dienslewering tot die minimum te beperk.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’