GEORGE NUUS - As Alan Winde, die DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap sy sin kry, sal inwoners in die provinsie genoeg elektrisiteit kan opwek met byvoorbeeld sonpanele om in hul eie behoeftes te voorsien en daar sal selfs genoeg wees om dit aan Eskom te kan verkoop vir verspreiding in die nasionale netwerk.
Winde was verlede Donderdag een van die sprekers by 'n geleentheid by die Tuinroete Botaniese Tuin. Die geleentheid is gereël deur Erika Brown, 'n lid van die George-stadsraad. Dit is deur sowat 40 belanghebbendes bygewoon en het nie plaasgevind onder die DA-vaandel of enige politieke party nie.
Brown het aan die George Herald gesê die vergadering was deel van 'n groen inisiatief waarby die sakegemeenskap ook betrek is. Die breë gemeenskap is ook deel van die inisiatief. Volgens haar was die doel om 'n groen ekonomie te bevorder en 'n visie vir George te ontwikkel.
Tydens die vergadering het die kwessie van energiebronne ter sprake gekom. Met verwysing na die huidige elektrisiteit-situasie het Winde gesê Suid-Afrika is in baie ernstige moeilikheid. Dit moet moontlik gemaak word vir mense om elektrisiteit aan die nasionale netwerk te kan lewer. "As jy genoeg elektrisiteit beskik, moet jy dit aan jou bure kan verskaf."
Hy is vasberade dat die Wes-Kaap selfonderhoudend met betrekking tot sy kragbehoeftes moet wees. Die son en die wind is beskikbaar. "Ons het die energie nou nodig."
Na die vergadering het hy aan die George Herald gesê Eskom kan nie belê in nuwe tegnologie, nuwe steenkoolkragsentrales en hernieubare energie nie. Dit moet geprivatiseer word. Daarin is geleenthede vir munisipaliteite. Hulle kan sonkrag gebruik. George-munisipaliteit en die meeste munisipaliteite in die Tuinroete is reeds in 'n posisie om dit te kan doen. Om dit deur te voer is privaat beleggings nodig.
Mense kan sonpanele op hul dakke sit. Die elektrisiteit kan aan die munisipaliteite verkoop word wat dit weer kan terugplaas in die nasionale netwerk. "Ons moet selfonderhoudend wees."
Mense wat nie kan bekostig om byvoorbeeld sonpanele op hul dakke aan te bring nie, moet die elektrisiteit van hul bure kan koop wat dit wel kan bekostig. Dit moet teen 'n beter tarief wees as van Eskom.
Winde het benadruk dat dit aanvullend moet wees. Die Wes-Kaap moet genoeg elektrisiteit kan opwek sodat dit aan Eskom verkoop kan word. Eskom is op die oomblik besig om in duie te stort. Dit is belangrik dat Eskom wel oorleef anders sal die land se ekonomie sterf.
Tydens die vergadering het die brande wat die afgelope paar jaar in die gebied voorgekom het, weer ter sprake gekom.
Paul Buchholz, omgewingsprojek-bestuurder van die Southern Cape Landowners Initiative (SCLI). Foto: Eugene Gunning
Paul Buchholz, omgewingsprojekbestuurder van die Southern Cape Landowners Initiative (SCLI) het gewaarsku daar is steeds 'n brand gevaar in die gebied. Mense dink die berg het gebrand en die gevaar is verby. Dit is nie so nie. Hy het verwys na die teenwoordigheid van indringerplante wat 'n brandgevaar inhou. Indringerplante verhoog brandstofladings.Daar is baie instansies wat bereid is om te help, maar daar sal beter pro-aktiewe beplanning moet wees.
Rolspelers moet om 'n tafel gaan sit en beter koördinering moet plaasvind. Dit moet gebeur sodat beperkte hulpbronne geoptimaliseer kan word en duplisering voorkom kan word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'