Beeldhouer Dirk van Wyk is intussen oorlede, maar die reuse-aalwyn sal toeriste en inwoners altyd herinner aan sy besonderse talent.
The House of Aloes, of beter bekend as Alcare Aloe in Albertinia, het die standbeeld van die inheemse Kaapse aalwyn of Aloe ferox opgerig as toeriste-aantreklikheid en baken. "Dis ter ere van die plant self, asook die stigters van die aalwynbedryf in Suid Afrika," sê Basson Piek, hoof uitvoerende beampte van The House of Aloes.
Gedurende die laaste helfte van 2008 is die idee en konsep van so 'n standbeeld deur Piek aan hul raad van direkteure voorgelê en in beginsel aanvaar.
Dirk van Wyk is gevra om te kwoteer op die projek en dit is uiteindelik in Februarie 2009 aanvaar.
"Dit was seker die maklikste deel van die projek," sê Piek, "maar soos dit gevorder het, het ek en Dirk beide besef dat dit 'n reuse-taak sou wees om iets te skep wat realisties en net so uniek soos die plant self is.
"Deur die loop van die projek was daar menige hindernisse wat oorkom moes word en nie een groter as die skielike en ontydige afsterwe van Dirk in Maart vanjaar nie.
"As gevolg van Dirk se lojale vriendekring en populariteit, asook die profiel wat die projek toe reeds gehad het, het 'n vriend en kollega, Francois de Wet, ingestem om die projek ter ere van Dirk te voltooi.
"Francois was ook instrumenteel in die oprigting van die standbeeld en was self in 'n stadium in 'n harnas, 10 meter bo die grond, aan die sweet om al die gedeeltes van die beeld finaal op te sit en vas te maak."
Op Dinsdag 24 Augustus het elke unieke stukkie van dié handgemaakte kunswerk bymekaargekom om sy plekkie in die son van Albertinia, voor die hoofkantoor en fabriek van The House of Aloes en Organic Aloe, in te neem.
Organic Aloe is die sustermaatskappy van The House of Aloes en het ook 'n finansiële bydrae tot die projek gemaak.
Die nege meter hoë standbeeld, wat ongeveer 2 500 kg weeg en waarvan elke blaar en blom individueel gemaak en uniek is, lyk net soos die ware Jakob. Dit het 'n beraamde 8 800 man-ure geneem om te voltooi.
Die finale oprigting sou egter nie moontlik gewees het sonder die hulp van Langeberg Konstruksie en Albertinia Meubelvervoer wat op een tydstip drie hyskrane op die toneel gehad het nie. Piek is van mening dat hierdie standbeeld as toeriste-aantreklikheid 'n massiewe bydrae sal lewer, nie net tot die streek nie, maar ook tot die Wes-Kaap en Suid-Afrika.
"Albertinia staan alombekend as aalwynkontrei en hierdie landmerk sal dus ook hierdie titel beklemtoon en só 'n bydrae maak tot die opheffing van die plaaslike gemeenskap," sê hy.
Dit was ‘n ingewikkelde, drie dae lange proses om die aalwyn staan te maak.