GEORGE NUUS - Die raaisel rondom die verdwyning van mnr. Wentzel van Wyk, vroeg in Januarie 2009, kan heel moontlik na 31 maande opgelos wees.
Van Wyk was 41 toe hy vroeg Januarie 2009 laas lewend gesien is. ‘n Vrou het hom opgemerk toe hy die Woodville-woude ingestap het om 09:00 die Maandagoggend, 9 Januarie.
Werknemers van SANParke het verlede Woensdag, 13 Julie omstreeks 12:00, op menslike beendere afgekom in die woud naby ‘n waterval in die omgewing van Collinshoek, Hoekwil, ongeveer 4 km van waar Van Wyk laas lewend gesien is en die roomkleurige GWM-bakkie waarmee hy gery het, gevind is. Klere is ook by die beendere gevind, wat op ‘n bykans onbegaanbare stuk grond, weg van ‘n voetslaanpad gevind is.
Ongeveer 1 km verder is ‘n vuurwapen, soortgelyk aan dié wat aan Van Wyk behoort het, gevind.
Van Wyk se suster, me. Karin Barkhuizen het gister aan die George Herald gesê hulle hoop dit is die einde van ‘n tragiese episode vir die familie, maar dat hulle ook wag vir die forensiese uitslag voordat hulle enige reëlings tref om afskeid te neem van haar broer.
Polisiewoordvoerder, kaptein Malcolm Pojie sê forensiese toetse moet eers gedoen word om die identiteit van die oorskot vas te stel. Hy wou nie spekuleer of dit wél dié van Van Wyk kan wees nie. Hy het wel bevestig dat DNS-toetse gedoen sal word op ‘n familielid van Van Wyk as deel van die ondersoek. Die oorskot is na die polisie se laboratorium in Kaapstad gestuur vir ontleding.
Kort ná Van Wyk as vermis aangemeld is, is sy beursie met R600 daarin in sy bakkie gevind. In sy woning in Laingstraat is persoonlike dokumentasie en polisdokumente netjies uitgepak gevind. Sy vuurwapen was egter weg en die polisie het in daardie stadium selfmoord gevrees nadat tekens van depressie by Van Wyk bespeur is.
Pojie het die afgelope week gesê die polisie sal met forensiese toetse bepaal wat die oorsaak van dood was.
‘n Geregtelik nadoodse ondersoek is geopen.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS