Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Maandag was 'n ekstra mooi sonskyndag vir Le Vallia-inwoner, Barend van Vuuren, toe hy 'n splinternuwe rooi Renault Duster in ontvangs geneem het. Dit was egter nie só maklik om dié op-en-wakker 60-jarige te oortuig dat hy inderdaad 'n motor gewen het nie.
"Ek het eers gedink hulle maak 'n grap toe hulle bel en sê ek het gewen. Deesdae is daar so baie slenters dat 'n mens nie iemand sommer so net kan glo nie. Ek het nog nooit iets gewen nie," het hy Maandag aan die George Herald gesê.
'n Vodacom-verteenwoordiger van die hoofkantoor in Johannesburg het in Februarie reeds vir Van Vuuren gekontak om vir hom die goeie nuus te gee. Van Vuuren het in Desember 'n databondel tydens Vodacom se Summer Gigs-promosie gekoop. Dit het hom outomaties gekwalifiseer vir 'n inskrywing in 'n gelukstrekking om een van 15 Renault Dusters - én brandstof ter waarde van R24 000 - te wen.
Ná talle SMS-boodskappe, WhatsApps, oproepe en e-posse in 'n poging om Van Vuuren te oortuig dat hy die eienaar van 'n nuwe motor was, het hy steeds gedink dat iemand die gek met hom skeer.
Claire Boltman, Vodacom se Eden-distriksbestuurder, oorhandig Van Vuuren se motorsleutels aan hom.
Claire Boltman, Vodacom se Eden-distriksbestuurder, is toe gevra om Van Vuuren op te spoor en reëlings vir die oorhandiging van die motor tref. "Ek het hom gaan soek en verlede maand [Maart] by sy huis in Le Vallia gevind. Dit was die eerste keer dat hy geglo het dat hy werklik 'n motor gewen het," sê Boltman.
Kyk 'n video hieronder:
Einde ten laaste is die Renault Duster, spesiaal in Vodacom-rooi, Maandagmiddag by Seaman's Motors in Langenhovenweg, aan Van Vuuren oorhandig.
Van Vuuren se eerste motor in die 80's was ook 'n Renault. Hy was destyds in 'n motorongeluk met die voertuig en het sedertdien nie weer 'n voertuig aangeskaf nie.
A 60-year-old man from Le Vallia, Bernard van Vuuren, was gobsmacked when he realised that he was actually the winner of a brand new Renault Duster. Van Vuuren didn't believe Vodacom when they first told him he was a winner. Van Vuuren bought a data bundle in December and was entered into a lucky draw. He also won R24 000 worth of fuel.
Barend van Vuuren agter die stuurwiel van sy spoggerige nuwe Renault Duster.
Barend van Vuuren kon sy oë nie glo toe Clarie Boltman, Vodacom se Eden-distriksbestuurder, Maandagoggend die sleutels van 'n splinternuwe Renault Duster aan hom oorhandig het nie.
Lees 'n vorige artikel: Man dink wenkar is 'n grap
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'