GEORGE NUUS - Leerders van PW Botha Kollege, het die geleentheid van 'n leeftyd gehad toe hulle die naweek in 'n militêre vliegtuig Kaap toe gevlieg is.
Dit was vir die militêre magte (SANDF) se loopbaanuitstallings in Khayelitsha.
Hulle het Sondag vanaf George-lughawe vertrek en by Ysterplaat-lugmagbasis geland.
Kobus Koekemoer, adjunkhoof by die skool, vertel alles het so gou gebeur. "Ons moes spring om alle papierwerk reg te kry," vertel hy. Volgens Koekemoer het hulle 'n groter groep van hul vaardigheidsleerders gevat, maar het ook die akademiese leerders ingesluit. Vir leerders soos Shecody Smalberger en Harry van Wyk, was dit net wat hulle nodig gehad het om die regte loopbaankeuses te maak.
Shecody sê sy wou altyd 'n verpleegster word, maar het nou die opsie om die beroep in die vloot te beoefen. Harry sê hy sal graag twee loopbane in die vloot wil doen, paramedikus en dieselwerktuigkundige. Albei leerders is in graad 12 en dit mag dalk nie hul eerste keer in 'n vliegtuig wees nie, maar vir baie ander leerders was dit die eerste en dalk ook die laaste keer.
Die geleentheid het vir veral vir die gr. 12-leerders by 'n vaardigheidskool soos PW Botha Kollege, nog deure oopgemaak. Met al die praktiese opleiding as deel van hul kurrikulum is hulle beter voorbereid vir 'n loopbaan in byvoorbeeld die weermag, lugmag of vloot waar hulle met masjinerie kan werk.
Die groep leerders van PW Botha Kollege wat Sondag Kaap toe gevlieg is vir die weermag se ekspo.
Die leerders is ook soos BBP's behandel met 'n weermag begeleiding na die ekspo. Hulle kon ook nie uitgepraat raak oor hoe fantasties dit in daardie vliegtuig was nie. "Dis baie soos in die movies, maar net beter," het hulle gelag. Wat Harry en Shecody geleer het is dat loopbane in die weermag jou baie bied, maar dat jy egter eers hul basiese kursus wat fiksheid insluit, moet slaag. Shecody sê gelukkig kan sy swem, want sy wil by die vloot aansluit. Haar tweede opsie is die lugmag.
Die ekspo was vanaf 16 tot 19 Februarie in die Mandelapark-stadion. Die fokus was eers net op gr. 9-leerders van Khayelitsha en Mitchells Plain. Daarna is besluit om ook gr. 12-leerders die Saterdag en Sondag in te sluit.
Die weermag het toe besluit om een groep hoërskoolleerders van George, Oudtshoorn, Riviersonderend, Langebaan en Bredasdorp in te sluit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'