So het Harold Basson, munisipale direkteur van siviele ingenieursdienste, gesê, in gesprek met die George Herald oor ons stad se watersekerheid. Die benarde stand van sake in Ekurhuleni, met beurtwaterstelsels, en areas in Tshwane wat reeds vir weke sonder water is, wek landswyd kommer. Diensverskaffer Rand Water en Nomvula Mokonyane, minister van waterwese en sanitasie, loop onder kwaai kritiek deur weens die waterprobleme wat voortduur. Basson het bevestig dat die situasie in George baie goed lyk, en dat daar nie rede tot kommer is nie. "Ons situasie hier is baie anders as aan die rand."
Basson het verwys na 'n opmerking van prof. Mike Muller, voormalige direkteur-generaal van waterwese en lid van die nasionale beplanningskommissie, wat Gauteng se waterprobleme toeskryf aan swak instandhoudingswerk aan infrastruktuur en 'n gebrek aan vaardighede by munisipaliteite en Rand Water. "Jy kan nie stelsels bedryf as jy nie die mannekrag het nie," het Basson gesê. "Ons het baie kundigheid en goeie langtermyn planne. Ons laat nie ontwikkeling toe as daar nie ordentlik voorsiening voor gemaak word nie. Ons het die kundigheid om dit te bestuur."
Basson het bygevoeg dat dit "kortsigtig" is om kapitaalbydraes te sny wat tot gevolg kan hê dat daar nie finansiering is om die infrastruktuur te bou en in stand te hou nie. Melvin Naik, portefeuljeraadslid van siviele ingenieursdienste, het hierdie stelling beaam. "George groei omdat hy 'n goeie infrastruktuur het. Mense, asook ontwikkelaars, kom hierheen omdat daar goeie dienslewering en infrastruktuur is," het Naik gesê.
Sorg vir eie water
Anders as in Gauteng, wat water deur Rand Water ontvang, sorg George vir sy eie water, het Basson gesê. "As ons hier probleme het, het ons net onsself om te blameer. Ons moet onsself help." Volgens Basson het ons genoeg water tot 2025, en is daar voorsiening gemaak vir droogtes. George se waterverbruik styg gemid-deld jaarliks met 4,5% en verbruik is huidig ongeveer 28 tot 30 megaliter (mega = miljoen) water per dag.
Water kan voorsien word vanuit boorgate in die berg, pompstasies by die Malgas- en Kaaimansrivier sowel as die Tuinroetedam. Die hergebruikaanleg kan ook aangewend word indien nodig. "Ons het dit nie verniet deur die droogte gemaak nie, dit was danksy gebeurlikheidsplanne, wat ingesluit het wateraanvraagbestuur wat in plek was.
Droogtes is 'n realiteit in Suid Afrika en daar moet voorsiening voor gemaak word." het Basson gesê. "Ons het daai tyd al 'n langtermynplan gehad." Twee toekomstige projekte wat ons watersekerheid verder sal verstewig sluit in die verhoging van die Tuinroetedam se oorloop en die uitbreiding van die Outeniqua-rioolaanleg. Die uitbreiding van die Outeniqua-rioolaanleg is belangrik aangesien die uitvloeisel aan die vereiste standaard moet voldoen wat nodig is om die hergebruikaanleg te bedryf. Dit sal sowat R140 miljoen kos om die rioolaanleg te vergroot. Die aanleg moet natuurlik ook uitgebrei word om suiweringskapasiteit te voorsien vir die uitbreidings in George soos die behuisingsprojekte wat oor die volgende paar jaar gaan plaasvind.
Kragonderbrekings en kabeldiefstal
Ofskoon kragonderbrekings volgens Basson 'n groot invloed op watervoorsiening het, beskik George oor groot mobiele kragopwekkers en goeie stoorkapasiteit. "George sal water hê tydens periodes van kragonderbrekings. Stoorkapasiteit word ontwerp om vir 'n periode van 48 uur water te lewer in sulke gevalle. Indien kragonderbrekings langdurig is, sal noodmaatreëls noodwendig in werking gestel moet word aangesien alle stelsels afhanklik is van elektriese toevoer."
Die munisipaliteit ondervind wel groot probleme met diefstal en vandalisme en daarom is voltydse sekuriteit by die verskillende pompstasies in plek gestel. Om 'n voorbeeld te noem is kabels, roosters en pypwerk gesteel by die Meul Riool Pompstasie. Die gevolglike skade aan die elektriese skakelwerk en pompe het ongeveer R500 000 beloop. "Klippe is in die inlaat gegooi wat groot skade aan die pompe aangerig het, en die water wat uitgespuit het op die elektriese skakeltuig, het verdere skade aangerig," het Basson gesê.

Harold Basson (links), munisipale direkteur van siviele ingenieursdienste, en Melvin Naik, portefeuljeraadslid van siviele ingeneursdienste. Foto: Michelle Pienaar
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'