GEORGE NUUS - Die "swak toestand" van die ultrafiltrasie-aanleg in Rosedale, wat veronderstel is om afvalwater te behandel, is tydens die laaste raadsvergadering geopper.
Hierdie kwessie is bespreek nadat wyksraadslid Edmund Bussack, 'n mosie daaroor ter tafel gelê het.
Volgens Bussack het 'n wykskomiteelid 'n klagte oor die aanleg in Rosedale ingedien.
In sy mosie skryf Bussack dat daar tydens 'n besoek gevind is dat die aanleg nie meer werk nie.
"'n Disfunksionele aanleg is 'n vrugtelose uitgawe vir die George-raad. Die aanleg moet tot sy volle potensiaal benut word om water na die George-dam te pomp.
"Vaardige personeel moet by die aanleg in diens wees," lees die mosie.
Lede van die burgemeesterskomitee het vroeër vanjaar 'n ter plaatse ondersoek gedoen.
Volgens Bussack was die aanleg in 'n bedenklike toestand en het daar oral water gevloei.
"Direkteur van siviel (Reggie Wesso), dit is nie op u gemik nie. Ons wil dit net onder u aandag bring, dat ons as raadslede, mislei word deur amptenare," het Bussack gesê.
"Op Saterdag 11 November het ons die aanleg besoek, met toestemming van die toesighouer om op die perseel te gaan. Daardie aanleg staan doodstil, met slotte aan.
George-burgemeester, Melvin Naik, se voorstel dat die filtrasie-aanleg deur 'n onafhanklike maatskappy ondersoek word, is gunstig deur die raad ontvang. Foto's: Michelle Pienaar
"Dit het vir hierdie munisipaliteit ongeveer R96 miljoen gekos, maar dit is 'n verlies vir ons. Dit is 'n wit olifant."
Bussack het gesê die damvlakke sou nooit so laag gedaal het as daardie suiweringsaanleg in werking was nie.
Waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het gesê daar moet in ag geneem word dat amptenare instruksies van hul seniors volg.
Luidens 'n voorstel van George-burgemeester, Melvin Naik, sal 'n ondersoek gedoen word en terugvoer aan die raad gegee word.
• Vir meer hieroor en ander watersekerheidsplanne, lees ook die berig "George to get a desalination plant" deur Ilse Schoonraad.
* The condition of the ultra filtration plant in Rosedale, Pacaltsdorp, was discussed during the Council Meeting last Wednesday. The issue was raised through a motion tabled by the Ward Councilor Edmund Bussack. George Mayor, Melvin Naik said the matter would be investigated.
ARTICLE: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOURNALIST
'We bring you the latest George, Garden Route news'