GEORGE NUUS - Sedert die nuus oor die koronavirus versprei het, het sommige inwoners laat waai en hulle koskaste volgepak.
Talle grappies het die ronde gedoen oor die populariteit van toiletpapier, wat blykbaar 'n onontbeerlike item is.
George Herald het op sosiale media gaan kyk watter items inwoners eerste gryp.
Sy wag geduldig vir betaaldag en hoop daar is nog iets oor op die winkelrakke: "Ek het kinders by die huis so ek moet stack met die eiers, 2 Minute Noodles, eiers en pap."
Esté Coetzee sê sy het toiletpapier, langlewemelk, mieliepap, blikkieskos, koffie en tee gaan koop. "Die rede is, ek wil winkels vermy. Wil net vinnig by 'n winkel soos 'n KwikSpar stop vir melk en brood in die aand as dit stiller is." Sy wou ook weet wat die punt is dat skole sluit, maar sy moet steeds met haar kinders in 'n groot kettingwinkel vir 'n uur rondstap om inkopies te doen. "Dis maar my enigste rede hoekom ek bietjie meer gekoop het - drie pakke suiker, mieliepap, kookolie, ens. Net om vir ten minste n maand groot winkels te vermy. "Ek't wel vir elkeen in ons gesin een botteltjie 100 ml handontsmetmiddel gekry."
Marcheano LeeQuin (Stalmeester) wou weet wat van die inwoners van Syferfontein? "Ek is baie versigtig vir hierdie plek in hierdie tyd.” Hy sê mense moet kom kyk hoe leef die mense in Syferfontein van hand tot mond. "Ek vrees baie vir hierdie plek. Dis 'n plakkerskamp, en nou met Covid-19 het ek nie hoop nie. Kyk hoe lyk dit hier, waar is ons veiligheidsmaatreëls? Meeste mense het nie selfone nie, ook nie geld om koerante te koop nie. Ons mense leef van die tiep (vullishoop) af." Sy bekommernis is wat gaan van die mense word wat nie kos, seep en ander goed kan bekostig nie.
Kelly Hector het vrae oor die situasie met die Go George-busse wat so oorvol is. "Dis vandat Pacaltsdorp se busse minder gemaak is dat mense letterlik op jou en in jou nek blaas so naby is hulle. Sy sê die alternatiewe reëls gaan nie werk vir mense wat nie ander keuses het nie. "Daar is 'n rede hoekom mense pendelaars is." Sy is bevrees dat dit tussen hulle wat daagliks bus ry, en almal wat met hulle in kontak kom, kan uitbreek.
Cedric August sê bid, bid en nogmaals bid. "Koop olie en vra God om dit te verander in die Bloed van Jesus. Salf dan al jou deure en vensters met die Bloed van Jesus. Elke dag maak jy jouself en familie toe onder die Bloed van Jesus." August sê mense moet nie vrees nie omdat God daar is om ons te beskerm.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'