GEORGE NUUS - “Die AHi Wes-Kaap is baie bekommerd oor die ekonomiese impak van die inperking van die 21 dae asook die verlenging van die addisionele twee weke tot einde April," het dr. Willie Cilliers, voorsitter van die organisasie, Woensdag, gesê.
Die organisasie het op Woensdag 15 April 'n aanlyn-seminaar vir kleinsakelui en entrepreneurs aangebied.
Volgens Cilliers was die belangrikheid van die aanlyn-seminaar eerstens om besighede in te lig oor die huidige ekonomiese situasie in Suid-Afrika.
Dit volg ná die waarskuwing van die miljardêr, Johann Rupert, dat die koronavirus-pandemie nie bloot ’n ekonomiese insinking veroorsaak het nie, maar ook ’n algehele herbelyning van die ekonomiese stelsel.
“Die opheffing van die Covid-19-inperking einde April gaan groot uitdagings op die kleinsakesektor en entrepreneurs plaas. Hulle moet toegerus word met hulpmiddels en beste praktyke,” het Cilliers gesê. Hy het benadruk die organisasie steun die besluite van pres. Cyril Ramaphosa ten volle en elke lewe van elke landsburger is uiters belangrik.
Die sluiting van besighede, wat ook bykans 80% van die AHi Wes-Kaap se lede-besighede direk raak, gaan 'n uiters nadelige invloed op die ekonomie teweegbring, met versekerde werksverliese op groot skaal.
Die hulppakkette wat vir besighede aangebied is, word oorval met aansoeke, soveel so dat die aanlyn-aansoekportale dit nie kan hanteer nie. Die vereistes en moontlike hulp is ook nie altyd duidelik nie.
Cilliers het gesê die AHi Wes-Kaap is van mening dat die bedrae beskikbaar glad nie aan die vraag sal kan voldoen nie en daar moet dus nie baie hoop daarop geplaas word nie. Bykans 90% van alle onlangse navrae deur die AHi-inbelsentrum handel oor die prosesse vir die eis van werkloosheidsversekering (WVF) asook die platforms vir hulppakkette wat nie werk nie.”
Hy het beklemtoon dat dit vir die AHi Wes-Kaap uiters belangrik is om nou die fokus te verskuif na 1 Mei, en wat gaan gebeur indien besighede toegelaat word om hulle deure weer te open vir besigheid.
The AHi Western Cape is worried about the economic impact of the lockdown. The organisation supports the steps announced by Pres Cyril Ramaphosa. The institute believes it is important to focus on the way forward from 1 May when businesses might be allowed to open their doors again.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'