Update
GEORGE NUUS - Conville-polisie is bedank en geprys vir hul vinnige optrede toe hulle verlede week 'n bakleiery tussen twee groepe gewapende leerders in Millerstraat, Rosemoor, in die kiem gesmoor het.
Een van die leerders wat in die bakleiery betrokke was, 'n 18-jarige seun, is op 'n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in hegtenis geneem ná hy 'n ander leerder (16) met 'n mes bygedam het.
'n Saak van ernstige aanranding is dieselfde dag by die Conville-polisie aanhangig gemaak. Volgens inligting van 'n betroubare bron is messe van beide die verdagte en die slagoffer gekonfiskeer.
Volgens 'n kommunikasiebeampte van Conville-polisie, lt.kol. Chris Meiring, is daar in hierdie stadium geen bewyse dat dit 'n bendeverwante voorval was nie.
"Aangesien die slagoffer blykbaar 'n monitor by 'n skool is, bestaan die moontlikheid dat die voorval dissipline verwant kan wees," sê Meiring.
Die verdagte het aangedui dat hy ook 'n saak van aanranding teen die slagoffer sal open.
Verskeie wapens is by leerders afgevat. Foto: Brendon Adams
Die voorval is aangemeld deur 'n inwoner wat gesien het hoe 'n groep seuns met pangas, messe en honde verby haar huis gestap het. Wyk 17-raadslid, Brendon Adams, sê die voorval spruit uit 'n bakleiery tussen leerders van twee skole in die omgewing.
"Ek is gekontak deur 'n dame in my wyk wat my vertel het van jongmense wat met pangas, messe en honde verby haar huis na Hoërskool George gestap het. Ek het dadelik die polisie ontbied en hulle het baie flink gereageer. Ek het die polisie by die skool ontmoet en ons het na 'n paar jongmense in die bosse naby die Molenrivier gesoek. Ek wil regtig net die Conville-polisie bedank vir hulle vinnige optrede," sê Adams.
Met die polisie se aankoms op die toneel, het die kinders hul wapens op die grond gegooi en hulself uit die voete gemaak. Die verdagte wat wel gearresteer is, het op Vrydag 17 Februarie in die George-landdroshof verskyn.
Hy is op borgtog van R500 vrygelaat en moet weer op 1 Maart in die hof verskyn op 'n aanklag van die besit van 'n gevaarlike wapen en weer op 23 Maart vir die klag van aanranding.
Sommige van die kinders het kapmesse en messe in hul besit tydens die voorval gehad. Na bewering was daar ook 'n vuurwapen betrokke, maar dit kon egter nie bevestig word nie.
Die Conville-gemeenskap het ná die voorval, die polisie op Facebook bedank en geprys vir hulle vinnige en doeltreffende optrede. Daar is glo ook verskeie wapens op dieselfde dag by leerders tydens skooltyd gekonfiskeer.
'n Plasing op 'n plaaslike Facebook-groep, LSS Community Care, waarin Adams die Conville-polisie bedank vir hul vinnige optrede.
LEES MEER: Tiener vas na bakleiery in Rosemoor
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'