GEORGE NUUS - ‘n Tienerseun (18) van Rosemoor is Woensdag 15 Februarie in hegtenis geneem ná ‘n bakleiery tussen ‘n groep leerders in Millestraat.
Volgens ‘n kommunikasiebeampte van Conville-polisie, lt.kol. Chris Meiring, hou die voorval glo verband met konflik wat tussen twee leerders veroorsaak is. Daar is in hierdie stadium geen bewyse dat dit ‘n bendeverwante voorval was nie.
“Aangesien die slagoffer blykbaar ‘n monitor by ‘n skool is, bestaan die moontlikheid dat die voorval dissipline verwant kan wees,” sê Meiring.
Die verdagte is kort na die voorval op die toneel in hegtenis geneem. ‘n Saak van ernstige aanranding is by die Conville-polisie aanhangig gemaak.
Die verdagte het aangedui dat hy ook 'n saak van aanranding teen die slagoffer sal open.
Sommige van die kinders het kapmesse en messe in hul besit tydens die voorval gehad. Na bewering was daar ook ‘n vuurwapen betrokke. Dit kon egter nie bevestig word nie.‘n Kapmes wat by ‘n leerder gekonfiskeer is.Met die polisie se aankoms op die toneel, het die kinders hul wapens op die grond gegooi en hulself uit die voete gemaak. Die verdagte wat wel gearresteer is, sal binnekort in die George-landdroshof verskyn.
Die Conville-gemeenskap het ná die voorval, die polisie op Facebook bedank en geprys vir hulle vinnige en doeltreffende optrede. Daar is glo ook verskeie wapens op dieselfde dag by leerders tydens skooltyd gekonfiskeer.
Polisie op soek na wapens op die toneel. Foto's: Brendon Adams
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'