GEORGE NUUS - Sowat 5 families wat voorheen agterplaasbewoners was, se plakkershutte is vanoggend vroeg deur wetstoepassing afgebreek.
Berton van Wyk sê hy en die ander mense kon nie meer hul huur bekostig nie, dis hoekom hulle ander heenkome moes soek. Van Wyk het toe die afgelope week ‘n plakkershut opgesit op ‘n oop stuk grond naby Crotonslot, New Dawn Park.
“Ek sou vandag die laaste stukke aangebou het, toe kom breek hulle my huis af.”
Hy en lede van die ander families het vanoggend hulp gaan soek by George-munisipaliteit se behuisingskantoor. Van Wyk het uitgevind dat hy nooit vir ‘n subsidie kwalifiseer het nie, waarop hy heeltyd staatgemaak het. Ook sê hy, as hy nie in 2015 ‘n besering opgedoen het nie, sou dinge baie beter wees en sou hy ‘n werk kon behou en huur bekostig.
Die mense is deur behuisingsamptenare aangeraai om eerstens seker te maak hulle is op die behuisingswaglys en intussen kan daar gekyk word waar daar grond beskikbaar is vir hulle om ‘n struktuur op te slaan.
Schaapkop-plakkerskamp wat daar naby geleë is, is reeds vol.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'