Hoof van Provinsiale Verkeer George/Oudtshoorn, mnr. Gerald Becker, het Dinsdag gesê die busse is omstreeks 05:30 afgetrek tydens 'n gesamentlike operasie tussen die provinsiale verkeerssentrums.
Volgens Becker is een van die SA Roadlink-busse, wat verlede week deur hul beamptes onpadwaardig verklaar is, weer gestop en is die busbestuurder aangekla omdat hy met 'n afdruk van die lisensieskyf gery het.
Die bus se oorspronklike lisensieskyf is verlede week vernietig en 'n kennisgewing is uitgereik om die gebruik van die voertuig te staak totdat die foute herstel en die voertuig deur 'n padwaardigheidstoets gesit is. Dit is egter nooit gedoen nie.
"Hy word aangekla omdat die voertuig teenstrydig met die opskortingskennisgewing gebruik was," het Becker bygevoeg.
Ander foute wat op die vyf busse gevind is, sluit in gladde bande, gekraakte windskerms, hoofligte en ruitveërs wat buitewerking was, olielekke, foutiewe skokbrekers en stabiliseerders.
Moedelose pendelaars van die SA Roadlink-busse, talle saam met klein kleuters, was Maandagoggend teen 09:00 steeds voor die kantore van provinsiale verkeer in Yorkstraat waar hulle op alternatiewe vervoer gewag het. Sommiges moes noodgedwonge ander reëlings tref om by hul bestemmings te kom terwyl 'n paar die middag voor die kantore gesien is waar hulle na Kaapstad duimgegooi het. Passasiers van die ander busse wat opgeskort was, was teen daardie tyd reeds weg met ander vervoer. 'n Egpaar van Mosselbaai, Dermaine en Chivon Duitsjan, was passasiers op een van die SA Roadlink-busse uit Port Elizabeth op pad huis toe saam met hul kleuters, Trevonne (5) en Trevano (2).
"In PE moes ons vier ure lank wag vir die bus en ons sit al van net na 06:00 hier in George. Dit is nie reg wat dié mense doen nie," het mnr. Duitsjan gesê.
Oor bewerings dat provinsiale verkeersbeamptes op George openbare vervoer teiken, sê Becker die beamptes op George is slegs deeglik in hul ondersoeke na openbare vervoer. "Dit is ook so dat die operasies gewoonlik in George gehou word weens die nabyheid van die skut wat op die dorp geleë is, sou daar busse wees wat buite hul roetes of sonder permitte opereer."
Hy het weer 'n versoek gerig aan alle maatskappye en voertuigeienaars wie persone teen vergoeding vervoer om seker maak dat hulle voertuie padwaardig is en dat alle dokumente in orde moet wees.
"Daar sal gereeld sulke operasies gehou word om te sorg dat passasiers op openbare vervoer volgens die bepalings van die Wet en met veiligheid vervoer word," het Becker gewaarsku.
.jpg)
Die Duitsjan-egpaar van Mosselbaai, Dermaine en Chivon Duitsjan, saam met hul kleuters Trevonne (5) en Trevano (2). Hulle was passasiers op een van die SA Roadlink-busse. Hulle moes ‘n familielid skakel om hulle te kom haal.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS