Update
GEORGE NUUS - 'n Polisie dienspistool wat verlede Woensdag gedurende protesaksie in die middedorp vermis geraak het, is weer teruggevind.
Die George-polisie wou aanvanklik nie die voorval bevestig nie, maar ook nie ontken nie.
George Herald het berig oor protesaksie deur Suid-Kaap Kollege-studente, waar die polisie moes optree en skokgranate moes gebruik om die massa studente uitmekaar te jaag. In die oproer het 'n polisiebeampte geval en het sy dienspistool uit die holster geval.
Die uitval van die pistool word blykbaar toegeskryf aan 'n foutiewe knippie wat veronderstel is om die pistool in die holster te hou. Die pistool is deur 'n jong man opgetel wat die polisie, met die hulp van kringtelevisiebeeldmaterial uitgeken het, en later dieselfde dag by 'n eetplek in die middedorp in hegtenis geneem het.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaap se polisiewoordvoerder, sê daar was wel 'n ondersoek na 'n verlore vuurwapen.
"Die vuurwapen is teruggevind nadat die lede videobeeldmateriaal bestudeer het. By verdere ondersoek is die verdagte met die vuurwapen in sy besit gevind." Pojie sê hy is gearresteer en 'n klag vir die onwettige besit van 'n vuurwapen is geopen.
Kapt. Malcolm Pojie, op die toneel voor Suid-Kaap Kollege se George-kampus, waar die vuurwapen vermis geraak het.
Hy bevestig verder dat 'n departementele ondersoek daarop dui dat die retensiekoord, wat die vuurwapen in plek moet hou, gebreek het tydens die protesaksie.
Volgens Pojie word daar ook stappe geneem teen die betrokke beampte. "Beide voorvalle word ondersoek."
By verdere ondersoek is die verdagte met die vuurwapen in sy besit gevind.
Verwante artikel: SCC students demand answers
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'