GEORGE NUUS - Die afgelope twee weke is daar geen vullis deur die munisipaliteit verwyder nie. Dit het heelwat ongelukkigheid onder gemeenskappe veroorsaak. Inwoners was opgeskeep met hul huisrommel wat vlieë asook siektes bring.
Baie kon dit self wegry omdat die stortingsterrein naby die lughawe oop was, waar ander moes betaal vir ’n diens of wag tot die munisipale diens weer hervat word.
'n Bekommerde inwoner en gemeenskapswerker van Rosedale het George Herald genader nadat verskeie oop stukke grond asook gangetjies vinnig in stortingshope verander het. Jan Alleman wat van sy of haar rommel wou ontslae raak het maar gemaak soos die res en dit onwettig daar gaan weggooi.
"Die rommel lê die wêreld vol. Dit waai in ons erwe en die reuk is verskriklik," het die inwoner gesê. Die persoon sê hulle kan namens die res van die inwoners praat deur te sê nou het hulle genoeg gehad. Die diens om rommel te verwyder sou Vrydag 19 Junie hervat word, maar omdat daar so 'n agterstand is, kon sekere gebiede nie gediens word nie.
Die inwoners van Rosedale sê gewoonlik kom groot trokke om die rommel te verwyder, maar nou weet hulle nie hoe lank die situasie nog sal voortgaan nie.
Walter Hendricks van die George-munisipaliteit se gemeenskapsdienste sê onwettige storting word elke tweede week soos klagtes inkom hanteer. Volgens hom moet probleemareas aan die munisipaliteit se omgewingsdienste aangemeld word, dit word dan op 'n skoonmaaklys gesit.
Hendricks sê die publiek word daaraan herinner dat onwettige storting kan lei tot 'n boete van R1 000 as die persoon skuldig bevind word.
Gemeenskappe word ook daaraan herinner dat Covid-19-regulasies steeds gehoorsaam moet word om die verspreiding van die virus te voorkom, wat beteken dat kinders ook nie op oop stukke grond mag speel nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'