GEORGE NUUS - 'n Groepie plaaslike vroue het pas ses maande se opleiding in geestelike berading voltooi sodat hulle slagoffers van geweld, kinders met selfmoordneigings en dwelmverslaafdes in Pacaltsdorp kan help.
Die opleiding is aangebied onder leiding van pastoor Anne Ross-Maarman, stigter van Grace and Royal Ministry, 'n beradingsdiens wat in November verlede jaar by die AGS-kerk in Pacaltsdorp bekendgestel is.
Dit is op veral vroue en die jeug gemik.
Ross-Maarman het verlede jaar die gemeenskap, polisie en kerke uitgenooi om hande te vat om hierdie diens beskikbaar te stel op plekke waar die jeug en vroue veilig kan voel.
Die AGS Pacaltsdorp onder leiding van pastoor Allen Spies het dadelik sy deure oopgemaak, en dit is waar die eerste kursus aangebied is.
'n Maatskaplike werker Berenice Twigg, en nog vyf vroue het dit bygewoon.
Ross-Maarman sê hulle het 'n behoeftebepaling in die gemeenskap gedoen voordat die opleidingsprogram begin is.
"Daar is toenemend depressie, selfmoord, tik- en daggamisbruik, kindermolestering en -verkragting, en aborsies ná verkragting in ons gemeenskap.
Ons het dus ook ander kerke gevra om ondersteuningsgroepe te fasiliteer sodat die jeug kan weet daar is plekke waar hulle met vrymoedigheid om hulp kan aanklop.
"Die kursus is intensief en het baie opoffering oor die afgelope ses maande van die deelnemers geverg. Hulle het hulself sonder om te skroom bereidwillig verklaar," sê Ross-Maarman.
Sy werk as kapelaan in die breër George en omstreke.
'n Aantal kundiges, waaronder dokters wat die nood van mense in die gemeenskap eerstehands ervaar, het by haar aangesluit om die kursus moontlik te maak en aan te bied.
Dr. Hermann Reuter, die Kaapstad Universiteit se akademiese koördineerder in Eden, is besig met navorsing en werk ook tans saam met Ross-Maarman. Sy bied tans ook opleiding aan by die Assemblies of God vir 'n tweede groep vroue wat 'n psigiatriese suster Trienie Brits, insluit.
Ross-Maarman, wat reeds sedert die begin van die jaar berading op Saterdae by die AGS Pacaltsdorp aanbied, sê die program gaan nou meer momentum kry en meer mense sal gehelp kan word.
Persone wat belangstel om betrokke te raak, kan haar bel by 079 327 3273.
Die vroue wat die beradingskursus voltooi het saam met aanbieders en ander rolspelers is voor, van links: Berenice Twigg, Imelda Cupido, Bettie Sampson, Sarah Marillac en Delia Stoffels. Middel: Katrina Brits, Elisabeth Prins, Angelina du Plessis, Mathilda Prins, N'Selina Sambo en Bernadine Solomons. Agter: Pastoor Peter Appollis, dr. Hermann Reuter, Anne Ross-Maarman, Nicolene Appollis, Elna Hardnick en Angie Baardman.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'