Die slagoffers word van agteraf oorval, geblinddoek en dan dieper in die bosse geneem waar hulle verkrag en later vrygelaat word. Hul aanvaller dwing hulle, terwyl hulle steeds geblinddoek is, om na die verkragting saam met hom te loop waarna hy dan spoorloos verdwyn.
In die eerste voorval op 29 Maart omstreeks 20:30 het die 18-jarige slagoffer en 'n vriend langs die hoofweg tussen Thembalethu en Pacaltsdorp geloop toe hulle deur 'n onbekende man, wat uit die bosse gekom het, gekonfronteer is. Hy het albei van hulle aangerand en die slagoffer geblinddoek voordat hy haar oor die hoofweg tot in die bosse agter Borcherds geneem het waar hy haar herhaaldelik verkrag het.
In Saterdag se voorval kort na 19:00 is die 19-jarige slagoffer ook van agteraf verras. Sy was onderweg van Rosedale na haar ouerhuis in Borcherds toe sy in die bosse agter Borcherds deur 'n man, met 'n mes en piksteel, oorval is. Hy het haar geblinddoek en haar met die dood gedreig terwyl hy heeltyd agter haar geloop het. Daarna is sy glo dieper in die bosse geneem waar hy haar verkrag het. Sy moes daarna, steeds geblinddoek, voor hom uitloop waarna hy in die bosse verdwyn het.
Nie een van die slagoffers kon 'n duidelike beskrywing van hul aanvaller aan die polisie verskaf nie, omdat die man of kop onderste geloop het en die lig swak was of heeltyd agter sy slagoffer was. Al inligting wat in die mees onlangse voorval verskaf is, is dat die man Xhosa-sprekend, lank en skraal is. Hy was geklee in 'n ligblou jean, blou skoene en het vermoedelik 'n klapmus (balaklawa) oor sy gesig gehad.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister gesê alhoewel alle moontlikhede ondersoek word, dui voorlopige inligting daarop dat die twee voorvalle nie met mekaar verband hou nie. Die polisie het ook 'n ernstige waarskuwing gerig en versoek dat persone swak of onbeligte deurpaadjies moet vermy."
Hulle moenie alleen beweeg nie, maar eerder in groepe van drie of meer. Hulle kan ook familielede in kennis stel as hulle te voet iewers heen loop sodat wanneer hulle nie betyds opdaag nie, die owerhede in kennis gestel word." Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, ao. C Wolhuter van die Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe-eenheid skakel by 044 803 4618 of 082 335 1200.
* Following another rape next to the N2 behind Borcherds, police have warned women not to walk alone and to avoid dangerous short-cuts near dense bushes. In the latest rape, the rapist followed the same modus operandi as that of an attack in the same spot just a few weeks ago. The victims are attacked from behind, blindfolded and dragged into the bushes and raped. Afterwards, still blindfolded, they are forced to walk with the attacker and then he disappears.

Die polisie het vroue gewaarsku om nie alleen die kortpaadjies oor die N2-snelweg tussen Rosedale en Borcherds te gebruik nie. Foto: Myron Rabinowitz
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'