George-speaker, Mercia Draghoender, het baie moeite gedoen om elke raadsvrou soos 'n "ware dame" te laat voel. Die inisiatief vorm deel van die feesvieringe tydens Vrouemaand.
"Ek dink die vergadering gaan nou in 'n baie goeie gees verloop. Speaker, jy is voluit vrou!" So het Theresa Fortuin, 'n ANC-raads-lid, Draghoender geprys vir haar program.
Elke vrou in die raad het 'n geskenkpakkie ontvang met onder meer handgemaakte kralewerk.
Pienk strikkies is ook uitgedeel aan die skoner geslag as deel van 'n bewusmaking vir borskanker en kanker by kinders.
Charles Standers, George-burgemeester, het die vroue gekomplimenteer oor hul pragtige uitrustings. Die ANC-raadslede het veral geblom in hul tradisionele drag.
"Ons erken die altyd die rol van 'n vrou nie," het Standers later in sy burgemeesterstoespraak gesê.
Ook Flip de Swardt, DA-hoofsweep, was vol lof vir die vroulike geslag - maar nie sonder sy gebruiklike grappie nie.
"Vanjaar is ek 50 jaar met 'n vrou getroud - en al wat ek daarvoor wil hê is 'n medalje," het hy gesê.
Charlie Williams, ANC-hoofsweep, het sy woorde by die Bybel gaan haal. "Adam het Eva nodig," het hy gesê. "Hy (Adam) het na die paradys gekyk, en geweet hy mis iets belangriks."
Die vergadering is ingelei met musiek, 'n sangitem van 'n vroue-bode en 'n spontane lied van die ANC-vroue.
Die strydbyle was egter nie heeltemal begrawe nie, maar slegs vir 'n wyle gebêre.

Martina October (links voor), 'n bode van die departement van kooperatiewe dienste by George-munisipaliteit, het 'n sangitem gelewer as deel van die program vir die vroueraadslede tydens verlede Woensdag se raadsvergadering. Sarel Samson van siviele Ingenieursdienste het die kitaar bespeel. Trevor Botha (agter van links), munisipale bestuurder, Mercia Draghoender, speaker, en adv. Johan van Schalkwyk het toegekyk.

Busisiwe Salmani (links) vertoon kleurvol langs die vriendelike Theresa Fortuin. Beide vroue is ANC-raadslede. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'