GEORGE NUUS - Daar is 'n geregtelike doodsondersoek geopen ná 'n vrou (31) haarself Dinsdagoggend na bewering in die aanhoudingselle van die Pacaltsdorp-polisiestasie aan haar serp opgehang het.
Die ondersoekbeampte het haar liggaam omstreeks 11:00 in die sel aangetref.
Die oorledene, Esmerene du Plessis, is Maandag in verband met diefstal van sowat R560 se klerasie by 'n huis in Rosedale, in hegtenis geneem. Sy sou gister in die George-landdroshof verskyn.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die voorval bevestig en navrae na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verwys.
By navraag het Opod se waarnemende woordvoerder, Sontaga Seisa, bevestig dat hulle die voorval ondersoek. "Voorlopige ondersoek word gedoen om vas te stel of daar enige misdaad by die voorval betrokke was," sê hy. Sy word deur haar twee kinders oorleef.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'