Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Swanger vrou, wat onwettig op 'n plaas in Hansmoeskraal woon, het verlede Vrydag in 'n woning op die plaas gekraam omdat 'n ambulans haar nie betyds kon bereik nie. Madeleine Oosthuizen is een van die inwoners van die "ou hoenderhokke", soos wat daar na die behuising verwys word, op die plaaseienaar, Jan Oosthuizen, se grond.
'n Dringende hofbevel is onlangs bekom om Jan Oosthuizen te dwing om vir twee inwoners - waaronder Madeleine Oosthuizen - vrylik toegang te bied, nadat inwoners gekla het oor 'n elektroniese hek wat hy by die plaasingang aangebring het. Volgens Jan Oosthuizen het 'n interkomstelsel wat na die drama geïnstalleer is, dié probleem opgelos.
Die inwoners woon reeds jare op die grond. Hulle het wel 'n verblyfooreenkoms met die vorige plaaseienaar gehad, aan wie hulle huur betaal het, maar nadat die grond in 2016 verkoop is, het die ooreenkoms verval. Die koopkontrak het bepaal dat alle bewoners van die grond die perseel moet verlaat. Dit het egter nie gebeur nie.
Madeleine Oosthuizen se regsverteenwoordiger, Regan Brown, is besig om die voorval te ondersoek na 'n verklaring deur die ambulanspersoneel wat daarop dui dat hulle vir meer as 20 minute by die hek gewag het alvorens hulle toegang verleen is.
Jan Oosthuizen het gesê videomateriaal dui daarop dat die ambulans wel sowat 10 minute voor die hek vertoef het, voordat een van die personeellede uitgeklim en die selfoonnommer buite op die bord, Oosthuizen se nommer, gebel het.
Hy het gesê die ambulanspersoneel het hom na sy selfoon gebel, om 05:55 Vrydagoggend.
"Die oomblik toe die ambulans my bel en sê hulle staan voor die hek, het ek die hek oopgemaak," het hy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Oosthuizen het hy slegs een ander oproep vroegoggend ontvang, om 05:39, van 'n inwoner se seun wat op pad werk toe was. "Niemand anders het my gedurende daardie tyd gebel of die knoppie van die interkom gedruk nie," het hy gesê.
"My regsverteenwoordiger het intussen 'n brief ontvang waarin dit duidelik is hulle wil my aankla vir minagting van die hof. Ek het al my selfoonrekords vir my prokureur gegee. Hulle het geen poging aangewend om my te bel nie."
Brown het bevestig dat regstappe geneem word: "Ons het instruksies om regstappe teen Oosthuizen te neem, in terme van minagting van die hof."
Lees 'n vorige artikel: Vrou kraam in huis terwyl ambulans voor hek wag
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'