Update
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Swanger vrou wat onwettig op 'n plaas in Hansmoeskraal woon het vanoggend in haar huis op die plaas gekraam omdat 'n ambulans haar nie betyds kon bereik nie.
Madelein Oosthuizen is een van die inwoners van die "ou hoenderhokke", soos wat daar na die behuising verwys word, op die plaaseienaar, Jan Oosthuizen, se grond.
'n Dringende hofbevel is onlangs bekom om Jan Oosthuizen te dwing om vir twee inwoners - waaronder Madelein Oosthuizen - vrylike toegang te bied, nadat inwoners gekla het oor 'n elektroniese hek wat hy by die plaasingang aangebring het.
Volgens Jan Oosthuizen het 'n interkomstelsel wat na die drama geïnstaleer is, dié probleem aangespreek.
Madelein Oosthuizen se regsverteenwoordiger, Regan Brown, is tans besig met 'n regsaksie teen die plaaseienaar. Na bewering het die ambulanspersoneel vir sowat 20 minute by die hek gewag alvorens hulle toegang verleen is.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Jan Oosthuizen het die ambulanspersoneel hom na sy selfoon gebel, om 05:55 vanoggend. "Die oomblik toe die ambulans my bel en sê hulle staan voor die hek, het ek die hek oopgemaak," het hy gesê.
Volgens Oosthuizen het hy slegs een ander oproep vroegoggend ontvang, om 05:39, van 'n inwoners se seun wat oppad werktoe was.
"Niemand anders het my gedurende daardie tyd gebel of die knoppie van die interkom gedruk nie," het hy gesê.
Ten tye van die George Herald se navraag om 11:50 het Oosthuizen nog geen oproep van Madelein Oosthuizen se regsverteenwoordiger ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'