GEORGE NUUS - 'n Moordverdagte (23) van Rosemoor sal môre, Vrydag 12 Februarie, sy tweede verskyning in die George-landdroshof maak wanneer hy voorkom vir sy formele borgtogaansoek.
Jaylin Kerspay word daarvan verdink dat hy Saterdagoggend, 6 Februarie, 'n 21-jarige vrou van Rosemoor, Rosslin Blou, vermoor het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, dui die voorlopige ondersoek daarop dat die slagoffer by 'n naburige huis gaan hulp soek het ná sy met 'n skerp voorwerp aangerand is.
"Die slagoffer het inmekaargesak toe 'n inwoner van die huis waar sy gaan aanklop het, die deur oopmaak. Die slagoffer het steekwonde aan haar rug en skouer opgedoen. Sy is later deur paramedici op die toneel dood verklaar," sê Spies.
Verdere ondersoek het die polisie na 'n huis in Thwaitestraat gelei, waar die verdagte op aanklag van moord in hegtenis geneem is.
Hy is sedert sy inhegtenisname in aanhouding en buiten die aanklag van moord, staar hy ook 'n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die gesig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'