Update
TUINROETE NUUS - Die twee sekerheidswagte wat op Maandag 12 Desember om ongeveer 05:30 dood by die hek van die Louis Fourieweg-oorlaaistasie in Mosselbaai gevind is, was werknemers van Bamogale Security Services.
Die oorledenes was beide 28 jaar oud en is intussen geïdentifiseer as Loyiso Plaatjies en Siphelele Ngwedle.
Plaatjies en Ngwedle het die afgelope tyd in Asla Park gewoon, maar is volgens die polisie nie van Mosselbaai afkomstig nie. Beide is met skietwonde gevind.
Intussen krap die polisie kop oor die motief agter die moord. George Herald se susterskoerant, Mossel Bay Advertiser het verneem dat daar na bewering niks tydens die voorval gesteel is nie.
Die direkteur van Bamogale Security Services, Kay Madizakwane, sê die voorval bring talle vrae na vore. Sy kon nie bevestig of Plaatjies en Ngwedle gewapen was nie.
"Ons gun die polisie die tyd om die voorval te ondersoek, maar verstaan nie die motief agter die moord en of dit 'n aanval op ons maatskappy was nie."
Madizakwane sê misdaad is oral in Suid-Afrika, ook in Mosselbaai. Ons harte gaan uit na die families en geliefdes van die twee mans."
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte te kontak by 044 606 5633.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'