GEORGE-NUUS - Winston Elbrecht (25) wie se moordverhoor Dinsdag in die rondgaande hooggeregshof op George begin het, het ontken dat hy mnr. Ronald Scholtz (62) van George in 2008 vermoor het.
Scholtz is dood aan versmoring en kopbeserings.
Elbrecht erken wel dat hy Scholtz uit selfverdediging met ‘n ketel, besem en houttafel aangerand het.
Hy staan ook tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en twee van verkragting van minderjarige meisies wat onderskeidelik in 2007 en 2008 teen hom gebring is. Hy pleit onskuldig op al die aanklagte.
Volgens Elbrecht se pleitverduideliking wat deur sy regsverteenwoordiger, mnr. Wentzel Botha, aan die hof voorgelees is, erken Elbrect dat hy op 20 September 2008 saam met Scholtz by die Voltex-kantore in George was.
Luidens die verklaring het hy Scholtz daardie dag twee keer gebel om sy ontevredenheid oor sy skorsing twee weke vantevore te bespreek.
Hulle het na bewering afgespreek om mekaar by die Voltex-kantore te ontmoet waar Scholtz ‘selfs’ vir hom koffie aangebied het. Terwyl hulle gewag het vir die ketel om te kook, het hulle begin praat oor die skorsing waartydens Scholtz glo verskeie beskuldigings na sy (Elbrecht) se kant geslinger het en klaarblyklik kwaad geraak het.
Hy beweer Scholtz het hom toe voor die bors gegryp en hard gestamp "dat hy met sy kop teen die muur geval het".
Elbrecht, wat erken dat hy onder die invloed van drank en tik was, het Scholtz toe twee keer teen die kop met die ketel geslaan en hom met ‘n houttafel en besem aangerand.
Hy ontken dat hy hom met ‘n graaf geslaan of kleefband oor sy gesig of kop gedraai het. Hy sê ook dat hy nie kontant en draad gebuit het soos beweer word nie.
Elbrecht erken wel dat hy Scholtz se selfoon geneem het omdat dit na die aanval begin lui het en hy nie wou hê hy moes hulp ontbied nie.
Hy sê dit was nooit sy bedoeling om Scholtz dood te maak nie en dat die voorval nie vooraf beplan was nie, maar op die ingewing van die oomblik plaasgevind het.
Verkragtingsklagte
Oor die twee aanklagte van verkragting van minderjarige meisies (albei toe was 15), beweer Elbrect dat dit met hul toestemming plaasgevind het en dat hy nie bewus was dat hulle minderjarig was nie. Een van die slagoffers is ‘n familielid van Elbrecht. Die jong vroue (nou 18) het Dinsdag en gister oor kringtelevisie getuig.
Staat se bewysstukke
Mnr. Lenro Badenhorst, die staatsaanklaer, het op sy beurt aangevoer dat Elbrecht kort voor die moord gedros het en dit tot sy skorsing bygedra het.
Die staat voer aan dat Elbrecht op die vooraand van die moord verhoudingsprobleme ervaar het met sy vriendin.
Hy het ook kort voor die moord geld aangebied aan een van die verkragtingslagoffers om haar te oorreed om die saak teen hom terug te trek.
Die staat gaan probeer bewys dat Elbrecht Scholtz onder valse voorwendsels na Voltex se kantore gelok het deur vir hom te sê daar is ‘n pakkie wat afgelewer moet word. Die pakkie, ‘n koevert met twee leë kompakskywe daarin, is op die moordtoneel gevind.
Daar is ook vinger- en palmafdrukke op die besemstok, ‘n poot van die houttafel en die kleefband gevind. Dieselfde kleefband is gebruik om Scholtz se hand oor sy gesig vas te bind.
Scholtz se bloed is ook op een van Elbrecht se skoene gevind.
Die verhoor duur voort.
Die saak dien voor regter Anton Veldhuizen en twee assessore, mnr. Charles Erasmus van Knysna en adv. Stoffel Prinsloo van Oudtshoorn.
Artikel: Lizette da Silva