GEORGE NUUS - Die Conville-polisie moes Saterdagmiddag, 5 Maart, skokgranate gebruik om oproerige inwoners onder beheer te bring. Dit volg ná 'n voetganger, Gregory Rossouw (54) omstreeks 17:20 in Fotheringhamstraat, Rosemoor, doodgery is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het Rossouw veelvuldige beserings opgedoen ná hy deur 'n silwerkleurige VW Polo getref is. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.
'n Saak van strafbare manslag is vir verdere ondersoek geopen. Die bestuurder van die voertuig is vir ondervraging ingeneem," het Spies gesê.
'n Groep inwoners het later polisiebeamptes, wat op die toneel ontplooi was, gedreig en polisievoertuie, asook die bestuurder se Polo, met klippe bestook.
Versterkings wat die polisie se eenheid van openbare orde (Pops) insluit, is in die gebied ontplooi in 'n poging om die spanning te onderdruk. Die polisie het skokgranate gebruik om die groep uiteen te jaag.
"Die polisie het sake van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en aanranding geopen. Die verdagtes in dié sake moet nog in hegtenis geneem word," sê Spies.
Volgens 'n betroubare bron het die inwoners oproerig geraak omdat die bestuurder van die voertuig voor in die polisie se vangwa van die toneel verwyder is.
"Hulle moes hom vinnig daar wegkry. Die mense wou hom bykom en sy lewe was in gevaar," sê die bron.
Die polisie moes van skokgranate gebruik maak om die skare onder beheer te bring.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'