Die geliefde sanger en liedjieskrywer is Vrydagnag omstreeks 23:00 in ‘n versorgingseenheid in Bloemfontein oorlede en het sy gesin versoek om sy as by sy geliefde Victoriabaai te kom strooi.
Maree het na twee jaar sy stryd teen prostraatkanker verloor. In die laaste weke van sy lewe het hy ook aan nierversaking gely en was hy aan sy hospitaalbed gekluister.
Maree laat ‘n liedjieskat na wat wêreldklas is. Benewens sy bekende Victoriabaai het liedjies soos Ek sou kon doen met ‘n miljoen en Droomvrou (wat hy vir sy vrou Ilse geskryf het) deel geword van die volkskat in Suid-Afrika.
"Benewens sy reuse-talent, was Lucas ‘n dierbare vriend. Net sy hart was groter as sy talent," sê sy vriend en medemusikant van 35 jaar, Coenie de Villiers.
Innes Benade, plaaslike eiendomsagent en ook ‘n ou musiekgenoot, sê "ons het ‘n kosbare pêrel verloor. Daar is nie geld wat die waarde van Lucas se songs kan haal, of emosies soos dié wat hy kon lossing, kan betaal nie."
Rod en Chanel Hossack, eienaars van die Land’s End-gastehuis waar Lucas soms tuisgegaan het, sê Vicbaai sal Lucas mis. "This is such sad news. When asked, he freely used to sing his song to the staff after breakfast ... Vic Bay will treasure Lucas and his great attitude towards life and people. Hy het Vicbaai op die map gesit."
.jpg)
Victoriabaai
ARTIKEL: MANDI BOTHA