Update
GEORGE NUUS - 'n Vergadering tussen lede van die gemeenskap en die Victoriabaai-inwonersvereniging wat op Dinsdag 4 Augustus sou plaasvind, is uitgestel. Volgens Virgill Gericke, 'n stadsraadslid van die George-stadsraad en die Garden Route-distriksmunisipaliteit sal dit waarskynlik aanstaande week plaasvind.
Gericke het reeds vroeër 'n formele ondersoek na onlangse gebeure by Victoriabaai aangevra. Die ondersoeke hou onder meer verband met grondverskuiwingswerk wat by die ingang van die strandoord plaasgevind het.
Gerugte het die ronde gedoen dat van die inwoners 'n mate van toegangsbeheer wil toepas. Die grond by die ingang is platgestoot en plaveisel is gelê. Vrae het ontstaan oor wie toestemming daarvoor verleen het en of 'n openbare deelname proses gevolg is.
Verlede Donderdag het lede van die gemeenskap na Victoriabaai opgeruk en antwoorde gevra. Onder die protesgangers was verskeie lede van politieke partye soos die PBI, die ANC en die EFF.
Gericke het Maandag aan George Herald gesê die vergadering is op versoek van die inwonersvereniging uitgestel. "Ons is steeds gretig om met hulle te ontmoet om alle onsekerhede uit die weg te ruim en om seker te maak dat Victoriabaai toeganklik is. Daar is 'n gees van eensgesindheid onder die gemeenskap om die saak op te klaar."
Gericke het gesê geen inwonersvereniging het die reg om te besluit oor 'n strand nie, dit behoort aan almal.
Francois Roets wat namens die inwonersvereniging gepraat het, het gesê hulle wil hê dat almal die strand moet geniet. Daar sal nie toegangsbeheer wees nie.
Lede van die polisie hou die protes-geleentheid verlede Donderdag by Victioriabaai dop.
Niel Schalkwyk, voorsitter van die inwonersvereniging, het die interaksie tydens die protesgeleentheid as "konstruktief" beskryf. Hy het gesê die voorgestelde elektroniese hek sal nie vir voetgangers wees nie. Dit sal slegs vir voertuie wees.
Daar is laasweek ooreengekom dat konstruksiewerk by die hoofingang tydelik gestaak word.
Die protesgeleentheid verlede Donderdag by Victoriabaai. Foto's: Eugene Gunning
Munisipaliteite reageer
Op navraag oor die grondverskuiwingswerk het die Garden Route-distrikmunisipaliteit se uitvoerende bestuurder ekonomiese ontwikkeling en beplanning, Lusanda Menze, gesê gesprekke tussen George-munisipaliteit en die Victoriabaai-inwonersvereniging vind plaas. "Ons wag vir 'n formele brief van mnr. Schalkwyk oor gesprekke (per discussions) wat plaasgevind het op Maandag 13 Julie 2020.
"In die stadium is daar nie 'n formele ooreenkoms tussen die Garden Route-distriksmunisipaliteit en enige van die partye wat betrokke is. Die Garden Route- distriksmunisipaliteit is nie geken in enige aktiwiteite wat plaasgevind het op die eiendom ter sprake nie."
Die George-munisipaliteit het reeds vroeër gesê dat geen toestemming verleen is vir enige werk wat op interne paaie by Victoriabaai gedoen word nie. Dit val nie onder sy jurisdiksie nie. Dit word bevestig dat geen "formele besprekings" in die verband met die Victoria Bay Ratepayers Association en/of Garden Route-distrikmunisipaliteit plaasgevind het nie.
A meeting scheduled for 4 August between members of the community and the Victoria Bay residents association has been postponed. Over the last few weeks it was alleged that some residents were planning a form of access control, such as a boom gate. Construction work at the main entrance fueled the rumours. This was denied by the residents association who promised to engage with concerned Georgians.
Vorige artikels:
- Amptelike ondersoek na Vicbaai geëis
- Ondersoek gebeure by Vicbaai, eis Raadslid
- Dit wikkel en woel by Vicbaai
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'