GEORGE NUUS - 'n Openbare verteenwoordiger wat sitting op die George-stadsraad en die Garden Route-distriksmunisipaliteit het, Virgill Gericke, eis 'n ondersoek na die grondverskuiwingswerke wat onlangs by die ingang van Victoriabaai plaasgevind het.
George Herald het verlede week (16 Julie) die eerste keer daaroor berig en daarna het dit op sosiale media gegons en verskeie mense wou weet wat aan die gang is. Daar is nog talle onbeantwoorde vrae en daar word gehoop dat 'n ondersoek groter lig hierop sal werp.
Neil Schalkwyk, voorsitter van die inwonersvereniging, het vroeër gesê amptenare van beide die Garden Route-distriksmunisipaliteit en George-munisipaliteit is bewus van wat daar gebeur.
Beide George en die distriksmunisipaliteite het egter gesê hulle dra nie kennis van die aanloop na die grondverskuiwing nie. Schalkwyk sê die inwonersvereniging is heen en weer tussen die twee owerhede gestuur en kon nie langer wag nie.
Hy sê daar gaan gepoog word om wetstoepassing in plek te kry wat ook sal beteken dat geen drank toegelaat word nie.
Gericke het Dinsdag gesê hy gaan by beide die George-munisipaliteit en die distriksmunisipaliteit vra dat die aangeleentheid ondersoek word. Verskeie lede van die publiek het hom genader en Gericke wil weet hoekom die publiek nie geken is in die aangeleentheid nie. Die vraag moet ook gevra word of enige munisipale amptenare moontlik toestemming verleen het om sonder goedkeuring voort te gaan.
"Was daar 'n openbare deelname proses?" wou hy weet. "Ons sal nie toelaat dat die privatisering van strande in stilte plaasvind nie."
Virgill Gericke, stadsraadslid
Gericke het gesê Victoriabaai behoort nie net aan die inwoners nie, maar ook aan die gemeenskap. Volgens hom het Schalkwyk hom genader vir 'n gesprek en is hulle van voorneme om bymekaar te kom.
Schalkwyk het by navraag herhaal dat beide munisipaliteite bewus is van wat daar gebeur. Daar word 'n bepaalde proses gevolg en 'n landmeter is reeds aangestel. Hy het benadruk dat dit nie gaan oor die privatisering van die strand nie. Alles is tot voordeel van die gemeenskap en mense se veiligheid op die strand sal ook nie in gedrang kom nie.
Niks onwettigs word gedoen nie en hulle sal hou by alle munisipale voorskrifte.
Die mikpunt is steeds om blouvlagstatus te verseker. "Hoe gaan jy blouvlagstatus kry as daar drank op die strand toegelaat word?" wou hy weet. Hy sê die "koppie" is verwyder om die paadjie rolstoelvriendelik te maak. Die Garden Route-distriksmunisipaliteit, George-munisipaliteit en die inwonersvereniging is in gesprek oor die aangeleentheid.
Lees 'n verwante brief: Radical demolition of history at Vic Bay
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'