Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Militêre veterane van George kan uitsien na hul eie stukkie grond en 'n tweeslaapkamerhuis in Rosedale. Altesaam 55 erwe is vir die doel geïdentifiseer.
Volgens assistent media-skakelbeampte van George-munisipaliteit, Debra Sauer, vorm die 55 erwe deel van die algehele Erf 325 Oos-ontwikkeling in Rosedale, en is die beplanning tans in 'n gevorderde stadium.
"Die ontwikkeling van die 55 erwe gaan plaasvind by Erf 325 Oos. Europe is nie tans ingesluit nie, maar die besluit kan later hersien word," het sy gesê.
Spesifieke datums vir die bou en oorhandiging van die huise kan nie nou al voorsien word nie.
Die volledige subsidie word deur die departement militêre veterane (DMV) en die provinsiale departement van menslike nedersettings voorsien. Militêre veterane maak geen bydrae nie.
"Hierdie departemente het tans 55 militêre veterane geïdentifiseer wat vir 'n behuisingsgeleentheid kan kwalifiseer.
Indien meer veterane geïdentifiseer word sal meer erwe beskikbaar gestel word in toekomstige projekte om diegene 'n behuisingsgeleentheid te bied," het Sauer gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Twee militêre veterane is baie opgewonde oor die verwikkeling, naamlik John Bruinders en Piet Malgas, onderskeidelik voorsitter en sekretaris van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps Militêre Veterane-vereniging (SACCMVA) se George-tak.
Bruinders moedig alle plaaslike militêre veterane aan om hul vorms in te vul en vir 'n verskeidenheid voordele te registreer.
"Ons het twintig jaar lank vir hierdie regte baklei," het Bruinders gesê. Hy verwelkom die George-raad se onlangse besluit om die toekenning van die grond goed te keur.
Hoe werk dit?
Alle voormalige militêre veterane moet geregistreer wees op die databasis van die departement van militêre veterane om in aanmerking te kom vir die subsidie wat beskikbaar gestel word deur die DMV.
Indien persone nie geregistreer is op die databasis van die DMV nie, sal hulle nie in aanmerking kom vir hierdie projek nie.
Die provinsiale departement van menslike nedersettings voorsien 'n gedeelte van die subsidie R110 947 en die DMV voorsien die verskil van R77 937.
Die totale subsidie wat beskikbaar gestel word is R188 884. Dit is slegs vir die topstruktuur (huis).
Die beplande grootte van die huise is 50m² en sal onder meer toegerus word met 'n volledige badkamer (bad, toilet, wasbak), 'n oopplankombuis-en-leefarea, keramiek vloerteëls, kombuiskaste, 'n stoof, 'n warmwatertoestel wat met sonkrag werk, 'n afdak en 'n grensheining.
ARTIKEL EN VIDEO: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuuus'