Update
GEORGE NUUS - Die dood van 'n vermeende rower (26) van Rosemoor wat Maandagaand by die Conville-polisiestasie dood is, word deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek.
Lees 'n vorige artikel: Vermeende rower sterf na polisie hom skiet
Sheldon Jantjies is glo deur 'n polisieman geskiet na hy (Jantjies) na bewering met 'n kapmes op die lid afgestorm het.
"'Opod het die toneel besoek en kan bevestig dat 'n 26-jarige man deur die polisie in hegtenis geneem is en later by die polisiestasie dood is," het Opod se nasionale woordvoerder, Sontaga Seisa, gesê.
Daar word beweer dat Jantjies vroeër glo by 'n roof betrokke was. Die slagoffer in die roof het die polisie omstreeks 17:00 ontbied en hulle na 'n woning in Rosemoor geneem waar Jantjies was.
Met die polisie se aankoms by die huis in Rosemoor, het Jantjies na bewering met 'n kapmes op 'n polisielid afgestorm waarna die lid twee skote afgevuur het. Een van die koeëls het Jantjies in die maag getref en die ander het 'n vroulike omstander (18) in die been getref.
Volgens Seisa is sy gehospitaliseer en 'n saak van poging tot moord word deur Opod ondersoek. Dit is nog onduidelik of dit die eerste of tweede koeël was wat haar getref het.
Volgens 'n ingeligte bron het die polisie nie onmiddellik besef Jantjies is raakgeskiet nie. "Daar was nie bloed nie. Die omstanders op die toneel het oproerig geraak en die polisie het die verdagte vinnig in die vangwa gelaai. Eers by die polisiestasie, toe die verdagte inmekaarsak, het hulle besef hy is raakgeskiet," vertel die bron.
Jantjies, en twee ander mans wat in aanhouding is, was na bewering geskeduleer om Dinsdag in die Thembalethu-hof op 'n afsonderlike aanklag van roof te verskyn.
Niemand is in hierdie stadium in verband met Maandag se skietvoorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie kon teen druktyd geen verdere inligting rondom die voorval bevestig nie.
IN SHORT - The national spokesperson of the Independent police investigative directorate (Ipid), Sontaga Siesa, confirmed they are investigating the incident where an alleged robber died at the Conville police station on Monday. The suspect, Sheldon Jantjies (26) was allegedly shot by a policeman after he (Jantjies) allegedly charged at the policeman with a panga. A female bystander was also shot in the leg during the incident and a case of attempted murder is also under investigation.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'