GEORGE NUUS - 'n Vermeende rower is vroeër vandag by die Conville - polisiestasie dood nadat hy deur die polisie geskiet is.
Die verdagte was kort voor die skietery na bewering by 'n rooftog in Rosemoor betrokke.
Die slagoffer in die roof het die polisie omstreeks 17:00 ontbied en na 'n woning in Rosemoor geneem waar die verdagte was.
Met die polisie se aankoms by die huis in Rosemoor, het hy (die verdagte) na bewering met 'n kapmes op 'n polisielid afgestorm waarna die lid twee skote afgevuur het. Een van die koeëls het die verdagte in die maag getref.
Volgens 'n ingeligte bron het die polisie nie onmiddellik besef die verdagte is raakgeskiet nie. "Daar was nie bloed nie. Die omstanders op die toneel het oproerig geraak en die polisie het die verdagte vinnig in die vangwa gelaai. Eers by die polisiestasie, toe die verdagte inmekaarsak, het hulle besef hy is raakgeskiet," vertel die bron.
Kapt Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die skietvoorval bevestig, maar wou nie uitbrei oor die gebeure nie.
Pojie het die George Herald na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) verwys vir verdere navrae.
Die oorledene se liggaam is vanaand van die toneel by die polisiestasie verwyder waarna Opod die ondersoek oorgeneem het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'